Amazing Pies: ’n Smulervaring in Oudtshoorn

Die heerlike tuisgemaakte produkte wat op die rakke by Amazing Pies beskikbaar is. Foto: Lindi Brill

Die passieprojek Amazing Pies van Christelle Jacobs, het die inwoners van Oudtshoorn beslis aan die praat. Hierdie pasteiwinkel bied nie net heerlike gevulde pasteie aan nie, maar ook ‘n verskeidenheid ander smaaklike produkte wat die smaakknoppies sal prikkel.

Jacobs het Maart 2024 die deure van die winkel oopgemaak in die Voortrekkerweg-winkelsentrum, waar die gewilde Weshandelshuis vroeër geleë was. Met elke dag wat verloop, is Amazing Pies se sukses net groter en groter. Die rekord aantal pasteie wat daagliks verkoop word, getuig van die kwaliteit wat hier gebied word.

Benewens die goedgevulde, varsgebakte pasteie op die rakke, kan kliënte ook smul aan samoesas, mini-pizza’s en die gewilde braaipasteie met smaaklike vulsels. Daar is ook heerlike croissants, ciabatta-brode en soet koeksisters beskikbaar om die honger te stil.

Vir gerieflike maaltye kan kliënte tuisgemaakte gevriesde etes aanskaf wat die beplanning van etes vergemaklik. Verskeie tuisgemaakte produkte bied ook unieke opsies vir spesiale geskenke, van slaaisouse tot geurige smere, wat jy op pannekoeke kan smeer of oor jou roomys kan gooi, of sommer net so met ’n lepel uit die bottel kan geniet. Die Hartjieskraalkonfyt en die suiwer heuning is beslis ook baie gewild.

Die vriendelike dames van Amazing Pies, Mariska, Melissa en Marilyn, staan gereed om jou met liefde en vakmanskap by te staan en jou besoek sal beslis ’n onvergeetlike ervaring wees.

“Ons wil net die publiek bedank vir hul ongelooflike en getroue ondersteuning.

Sonder ons ‘amazing’ kliënte sou ons vir seker nie so suksesvol kon gewees het die afgelope ses maande nie”, het Jacobs met dankbaarheid gesê.

Moet dus nie langer wag nie en besoek Amazing Pies vir smullekker eetgoed! Die winkel se deure is van Maandag tot Vrydag van 8:00 – 17:30 oop. Saterdae is hulle oop vanaf 8:00 tot 14:30. Volg hulle gerus op hul Facebook-blad, Amazing Pies.