Een van die Klein Karoo se bekendste en mees aktiewe inwoners, Daniel Robert (Bob) Reinecke, is op 30 Augustus by sy huis in Calitzdorp aan natuurlike oorsake oorlede. Hy was 94.
Die Hoorn het in 2020 met Bob se 90ste verjaarsdag berig oor alles wat dié merkwaardige man vermag het.
Hy het ’n loopbaan van 40 jaar in skeepvaart gehad en met sy aftrede in 1990 het hy in die Ladismith-distrik met amandels begin boer.
Na sy huwelik met sy tweede vrou, Chrissie, verhuis hulle in 2012 na Calitzdorp.
Hy het verskeie toekennings vir sy betrokkenheid by landbou, bergklim en diens aan die gemeenskap ontvang en op 90 was hy steeds betrokke by verskeie organisasies en toerisme.
Hy was ook aktief by die politiek betrokke as ’n lid van die DA.
Bob se ervarings en avonture as bergklimmer van die hoogste pieke in Afrika en Suid-Amerika sal ’n boek vul.
Hy was vir 60 jaar lid van die Bergklimklub van Suid-Afrika wat hom vereer het vir sy lewensbydrae.
Hy het ook in 2020 ’n toekenning van Agri Wes-Kaap ontvang vir sy bydrae tot landbou.
Daar word op 20 September om 11:00 ’n rou-diens by die Holy Trinity Church in Kampsbaai vir Bob Reinecke gehou.
Bob laat sy vrou, Chrissie, dogters Danielle en Nicolette en hulle ma Pandora, en sy suster Paulette Malcolm agter.
Lesers kan gerus Die Hoorn-berig oor Bob se lewe en avonture by die skakel https://www.diehoorn.com/algemeen/merkwaardige-man-laat-hom-nie-stuit-nie/ lees.
Kannaland-legende sterf op 94
Bob Reinecke, Kannaland-legende wat op 94 in Calitzdorp gesterf het Foto: Verskaf