Die Caves Aftreeoord het verlede Dinsdagaand, 3 September, ’n splinternuwe vleuel van die oord se versorgingseenheid aan gaste bekendgestel.
Bouwerk aan die nuwe vleuel is in Julie voltooi en is reeds vir pasiënte in gebruik geneem.
Genooide gaste het dokters, fisioterapeute, mediese personeel en besigheideienaars ingesluit wat tydens die opening die agt nuwe kamers met tien beddens kon besigtig.
Hierdie nuwe vleuel stel die spogoord nou in staat om 33 pasiënte in die versorgingseenheid te huisves teenoor slegs 23 in die verlede.
Hulle spog nie net met ’n nuwe vleuel nie, maar ook met moderne beddens waarvan die hoogte en verskillende verstellings met behulp van afstandsbeheer verander kan word om dit gemakliker vir pasiënte te maak.
’n Spesiale hystoestel is ook aangekoop wat aangewend word om pasiënte van beddens af te lig of op beddens te plaas.
“Daar was ’n behoefte vir enkelkamers vir pasiënte wat versorging nodig het,” vertel Alie Killian, voorsitter van die trusteeraad van die Caves Aftreeoord. Die voordeel van die addisionele kamers is dat die versorgingsoord nou meer buitepasiënte kan inneem wat dienste vir inwonende pasiënte meer bekostigbaar maak.
Voorsiening word ook gemaak vir pasiënte wat oor ’n kort periode mediese dienste of herstel na ’n operasie, benodig.
“Ons pasiënte word soos familie vir ons en ons stap elke dag ’n pad saam met hulle,” vertel Sanet Els, matrone van die eenheid.
Volgens haar streef hulle daarna dat pasiënte en inwoners so ver as moontlik onafhanklik moet bly deur eers versorging by die huis in die oord te reël. Inwoners wat versorging benodig kan ook deur die dag by hulle huise of woonstelle bly en snags in die versorgingseenheid deurbring.
Eers wanneer die persoon nie meer alleen kan woon nie, word permanente opname oorweeg.
“Ons maak ook voorsiening vir paartjies wat saam in die versorgingseenheid moet woon en hul kan selfs van hul meubels bring om die kamer gemaklik en meer huislik in te rig,” sê Els.
Die ongelooflike mooi uitsig vanuit die eenheid met groen landerye en die Swartberge in die agtergrond is ’n bonus.
Die ontwikkeling van Caves Afreeoord is tans in die finale stadium. Daar is slegs 3 woonsteleenhede beskikbaar en ses huise wat nog gebou moet word.
