’n Splinternuwe Chery TIGGO8 is Maandag aan AMS-Oudtshoorn oorhandig. Chery-SA het reeds vier voertuie aan drie AMS-stasies in die Wes-Kaap en KZN geskenk.
AMS (Air Mercy Services) verleen noodlugvervoer aan pasiënte en die voertuie word onder andere gebruik vir programme wat deur AMS in gemeenskappe aangebied word.
Die skenking wat Maandag deur AMS-Oudtshoorn ontvang is, is deur Group 1 se Chery-tak op George geskenk. AMS het tans ses noodstasies in drie provinsies; Wes-Kaap (2), KZN (1) en Oos-Kaap (3).
Die nutsvoertuig wat deur die ingenome Theo Schilder en Lucas Nienaber van AMS in Oudtshoorn in ontvangs geneem is, is ’n splinternuwe sewe-sitplek Chery TIGGO8 met slegs 87 km op die afstandsmeter.
Die voertuig is deur Mich Prinsloo en Charl Whatley van Chery George afgelewer en word gratis onder spesifieke voorwaardes en met ’n volle onderhoudsplan vir gebruik aan AMS bekikbaar gestel.
Splinternuwe Chery vir AMS
Charl Whatley (heel links) en Mich Prinsloo van Chery saam met Lucas Nienaber en Theo Schilder van AMS tydens die oorhandiging. Foto: Hannes Visser