Oakdale-toutrekspan Wêreldkampioen

Voor by die vlag van links is: Jandré Aucamp, Henk Meyer, Steyn de Wet, Lourens Brand en mnr. Abrie de Wet. Agter van links is: mnr. Ivan van Zyl, mnr. Piet Lourens (afrigter), Divan Sprong, Andreas Muller, Francois Janse van Rensburg, Wihen Conradie, Zander Groenewald en Kobus du Plessis. Foto: Verskaf

Die 560 kg-toutrekspan van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, het skoonskip gemaak tydens die Wêreldkampioenskappe wat verlede Donderdag by die Alsenweg Stadion in Mannheim, Duitsland, begin het.

Dit is die derde jaar in ’n ry dat hulle as die Wêreldkampioene in die 560 kg-afdeling gekroon word. Verlede jaar het die Kampioenskappe in Sursee, Switserland, plaasgevind en in 2022 was dit in Holten, Nederland.

Hul trekke het as volg plaasgevind: Engeland 2-0; Duitsland 1-1; Chinese Taipei 2-0; Switserland 2-0 en Nederland 1-1. Hul halfeindrondte was teen Duitsland waar hulle 2-0 gewen het. Oakdale het in die eindrondte vir Chinese Taipei met 2-1 gewen.

Daar was ook tyd vir ontspanning gewees deurdat die seuns die geleentheid gekry het om die John Deere Museum in Manheim te besoek. (Deur Lindi Brill)