Die dag waarvoor Oudtshoorniete en die gesin van Mia le Roux, reeds lank wag, breek vandag aan as Mia Oudtshoorn toe kom. Die Mej Suid-Afrika Organisasie het Dinsdaggoggend 17 September, amptelik aangekondig dat Mej Suid-Afrika op Vrydag 20 September in die dorp sal aankom. Die aanvanklike beplanning was dat sy vanoggend om 11:00 reeds hier sou wees, maar as gevolg van vlugreëlings moes die program noodgedwonge aangepas word. Sy arriveer vanmiddag om 17:00 en ry dan na die Kango-grotte. Om 18:00 word ’n aandete in die Kangogrotte aangebied waar kore van die Infanterieskool en die Ad Astra-koor van Mia se almamater, Hoërskool Oudtshoorn gaan optree.
Saterdag het sy ’n vol program voordat sy om 13:00 vertrek. Sy is reeds vroegoggend vanaf 08:00 tot 10:00 by Eljada Nasorgsentrum vir volwassenes met gestremdhede waar sy saam met verteenwoordigers van Nomads Suid-Kaap skenkings aan die oord sal maak. Daarna sal sy ’n rit deur die dorp van 10:00 tot 12:30 onderneem wat by die De Jagersportkompleks eindig waar daar ’n fotogeleentheid tot om 13:00 sal wees.
Mia se ouers, Schalk en Liesel le Roux, wat voorheen die eienaars van Die Hoorn was, en steeds PostNet besit, vertel dat hul die dae afgetel het tot Mia se kuier aan haar tuisdorp.
“Ons is ongelooflik opgewonde om hierdie besonderse prestasie saam met haar en mede- Oudtshoorniete te vier,” vertel Liesel. Sy hoop dat Mia se oorwinning inwoners sal inspireer om mekaar te ondersteun.
“Ons is dankbaar vir die geleentheid om ook saam met haar die naweek tyd te spandeer en verlang vreeslik baie na haar daar ver in Johannesburg,”
Welkom tuis mooie Mia
Mej. Suid-Afrika 2024, Mia le Roux saam met haar ouers, Schalk and Liesel le Roux tydens haar kroning in Augustus. Foto: Mej. Suid-Afrika