Die perdehoewe gaan weer dreun

Bo: Een van die pragtige arabierperde op die De Zeekoe uithourit. Foto: Johanette Photography

Die 27ste De Zeekoe perde-uithourit vind volgende naweek op Vrydag en Saterdag, 20 en 21 September, by die Kansa Krale sowat 10 km buite Oudtshoorn, plaas. Hierdie gewilde rit trek jaarliks ruiters van regoor die land.

Vanjaar is daar ook ’n 20 km afstand vir jong ruiters of perde-entoesiaste wat wil deelneem.
Hierdie ruiters kan as ’n dagruiter inskryf op www.xrc.co.za

Die publiek is welkom om vanaf Vrydagoggend 08:00 na die mooi perde te kom kyk en kan ook kaartjies koop vir Vrydagaand se Spitbraai-ete. Die klub hou ook ’n wynveiling, om fondse in te samel.

“Nes alles in die lewe het onkostes om ’n rit aan te bied ongelukkig ook baie duur geraak. Ons is dankbaar vir elke persoon wat ons help met borgskappe, hetsy kontantbydraes en produkte vir pryse. Sonder elkeen se ondersteuning sou dit nie moontlik wees om ’n rit aan te bied nie,” vertel Basson, voorsitter van die Outeniqua Uithourit-klub, wat die rit aanbied.

Ander afstande is onder meer 40 km, 80 km en 120 km.

“Wat hierdie rit so gewild maak is die plat oppervlak, en lang sanderige gedeeltes waar ruiters en perde lekker gemaklik kan ry,” sê Henk Basson. Die eerste Oudtshoorn Perde-uithourit is op 28 Maart 1997 op die plaas Rooirivier sowat 20 km vanaf De Rust gehou. Dit is deur Piet Wannenburg snr en die Wes-Kaap Uithouritklub (WCERA) gereël. Die rit het tot in 2012 daar plaasgevind, waarna die bekende Nico du Bois, die aanbieding van die uithourit oorgeneem het.

Die rit is herdoop na die De Zeekoe Meerkat Uithourit en is vir die volgende drie jaar by die Kansa Krale aangebied.

Dit het van 2016 tot 2018 na die Berluda Gasteplaas in Schoemanshoek geskuif, voordat dit in 2019 teruggeskuif is na die Kansa Krale.

Kontak gerus 076 606 2554 of besoek die klub se Facebook blad vir meer inligting.

Die klub bedank graag die volgende borge vir hulle bydrae en skenkings aan die klub, wat die aanbied van hierdie rit moontlik maak:

Die Hoorn, Oudtshoorn Munisipaliteit, Van Rooyen Propshafts, Balancing Shop, De Krans, Calitzdorp Wynkelder, Boplaas Family Vineyards, Glenwood Wines, Karusa Wines & Craft Brewery, Spurwing Equine Feeds, Horse & Rides, Apex Animal Health, Reinich Beef en Volmoed Cottage.