’n Groep vriendinne wat boeremusiek geniet en self speel, dit is hoe Die Kaapse Affodille Boereorkes beskryf kan word. Hulle vermaak gehore met lekkerluister-liedjies en tradisionele Suid-Afrikaanse nommers soos Suikerbossie, Bosveldvastrap, Sarie Marais, Soutpansberg Polka en Al lê die berge nog so blou, om maar enkeles te noem.
Die orkeslede speel die volgende instrumente: konsertina, banjo, trekklavier, mondfluitjie, melodika, dromme en verskillende kitare. Hulle het ook al in verskeie koerante en tydskrifte verskyn en was selfs te sien op Kwêla, DKNT en kykNET se Varstrap Kompetisie.
Die Kaapse Affodille Dames Boereorkes het nie net ’n passie vir boeremusiek nie, maar hul borre-lende persoonlikhede kan in elke noot gehoor word. Al die dames is kranige musikante waarvan sommige al vyf tot ses instrumente bemeester het. Hul het behoorlik gehore op hul voete met hul dans-lusmaker-liedjies!
In 2012 is hul na Duitsland genooi en het by die grootste volksmusiekfees in Europa opgetree. Hul het selfs in 2013 musiek gemaak op ’n Japanese Toerskip.
Moet dus nie die merkwaardige dames by vanjaar se Grootvoël Boeremusiekfees misloop nie. Die fees vind plaas op 27 en 28 September by Hoërskool Oudtshoorn. Kontak Radio Namakwaland by 079 350 7339 of Brian Nieuwoudt by 082 322 7526 vir meer inligting of om kaartjies te bespreek.
