Menende: om iemand kwaai te beledig
Ousie Roeslyn het vanmôre baie opgewonde op die rusbank plaasgeneem. Ons het verkies om op die stoep ons oggendkoffie te drink.
“Gert”, het sy my aangespreek. “Ek het vroeg vanmôre vir die eerste keer in my lewe die waarskuwing voor Watson & Brink aptekersbesigheid raakgesien.”
“Was dit die waarskuwing oor nat vloere, Ousie, of…”
“Nee, Gert,” het Ousie driftig gesê. “Die waarskuwing op die sypaadjie voor die apteek se voordeur.
Dit is nogal in koper voor die voordeur van daardie besigheid ingegrif.”
“Wat staan op die kennisgewing, Ousie?”
“Wil jy my wysmaak jy het dit nog nooit raakgelees nie?” Daar was ’n triomfantlike lig in haar oë toe sy die mening aan my bekendmaak. Do not spit, penalty £3.00.
“Drie Pond vir spoeg, Ousie, was dit waarvolgens jy ’n boete moes betaal en as jy die boete geignoreer het, kon hulle jou toesluit?”
“Nee, Gert, ek kan nie onthou van ’n geval waar iemand opgesluit of beboet was as hy of sy gespoeg het in die straat nie.” Voorheen was die aksie ‘spuug’ genoem. Weet jy, Gert, daar was ’n tyd in ons dorp se geskiedenis dat jy verbied was om op sypaadjies te spoeg.”
Ek het vir ’n lang ruk na Ousie Roeslyn gestaar, en gesien hoe haar hande bewe toe sy vir ons elkeen ’n beker geskink het en dit het my laat voel daar is nog iets wat haar pla. Iets wat sy nog op die hart gehad het oor die beledeging wat gelei het tot die aksie van spoegkliere wat oortyd werk.
“Jy weet, Gert,” het Ousie haar nuwe aanslag begin. “Jy moet soggens sien hoe loop en spoeg die mense en jy weet mos hoe het die wind hierdie afgelope Augustus gewaai. Kieme kan mos maklik so versprei word in die wind. Daarom sal jy sien ek dra gereeld my masker, ek dra dit al sedert Covid. Ek moes ook praat hoe gaan dit op die rugbyveld. Die spelers spoeg na hartelus.”
“Maar Ousie, laat ek die rugbyspelers verdedig…” Ousie het my onmiddelik in die bek geruk.
“Luister nou mooi na my, Gert Mooney, ek gaan nie eens na jou luister nie.”
“’n Gespoegtery het my nog nooit aangestaan nie. Kom ek sê vir jou, dit is bloot net aangewende gewoontes, en verder gaan ek dit sommer van die heup af skiet – kyk net op die sypaadjies soos jy bedags dorp toe stap, hoe lê die afstootlike blertse en jy, Gert, wil hierdie afskuwelike gewoontes goedpraat? Jy sien, Gert, ek kan maar net sê wat het geword van higiëne en die gewoonte om jouself en jou omgewing skoon te hou. Het jy al, Gert, ’n bokser gesien wat in ’n bokskryt spuug?”
Ousie het opgestaan, haar hande gewas en die leë koffiebekers gewas en afgedroog. Toe sit sy die ketel met kookwater aan. “Dit, Gert, is hoe ons grootgemaak was. Jy was jou hande, jy nies in jou sakdoek. Jy hou jou hand voor jou mond as jy hoes en so kan ons aangaan. Jy gaap nie oopmond nie.”
Ousie het vir ons elkeen nog ’n koppie koffie geskink en vir elkeen van ons ’n ham en kaasbroodjie voorberei, en toe het sy weer verder gepraat.
“Ek het vanmôre ver gedink toe ek die waarskuwing op die sypaadjie voor die apteek gesien het – ek het gewonder wie het dié betrokke waarskuwing daar geplaas? Was dit die doel van ’n munisipale wet, of was dit gerig aan die gemeenskap van ons dorp, of was dit ’n voorstel van die mediese wêreld, of was dit deel van gesondheidsorg? Iewers moes dit deel gewees het van die een of ander wetgewing.”
Ousie het behaaglik aan die heerlike moerkoffie geteug. “Jy sien, Gert, toe ons kinders was, het ons dorp gesondheidsinspekteurs gehad. Hierdie mense, of amptenare soos hulle genoem was, moes geboue, persele en voedsel inspekteer. Daardie mense het hul werk met trots gedoen, en weet jy wat? Ek glo nogal hulle sou ’n boete uitgereik het as hulle jou vang spuug.”
Ek het Ousie Roeslyn in stilte aangeluister en in my binneste het ek besluit om in die toekoms te kyk of Boksers in ’n bokskryt spuug.
Ousie het die koppies in die wasbak gepak en gesing terwyl sy die skottelgoed was. Toe sy klaar is, het sy gegroet met hierdie woorde: “As jy weer dorp toe stap, Gert, kyk net met hoeveel minagting spoeg die mense, juis met so ’n aggressiewe houding, asof hulle jou gering skat – ’n belediging soos min.”
