Mark Steyn. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT se munisipaliteit is een van die min in die land wat “baie regkry met baie min – daarom stap ek graag ’n pad saam met die ander raadslede en amptenare”.
So sê Mark Steyn, nuwe proporsionele DA-stadsraadslid. Hy is verlede week inhuldig ná die bedanking van Louis Botha.
Steyn, ’n sakeman en entrepreneur, sê dis die eerste keer “dat ek vir ’n baas werk, maar in die politiek is daar strukture. Dit aanvaar ek so.”
’n Munisipaliteit het altyd te doen met twee aspekte van dienslewering, volgens hom: “ ’n balansering van verwagtinge, teenoor dit wat die munisipaliteit kán lewer.”
Dis belangrik om na die publiek te luister, sê hy, “want hulle bring kwessies wat vir hulle belangrik is na jou – dinge soos straatligte, slaggate. So ver dit die begroting toelaat, stel ’n munisipaliteit planne op om die publiek tegemoet te kom. Ek help graag hiermee. Solank daar altyd binne ’n begroting gebly word.”
“As deel van ’n span gaan ek spring op dit wat nie werk nie. Ons munisipaliteit word goed bedryf. Maar Prins Albert is ook ’n plek waar die apartheidsverlede sigbaar is. Ek wil graag my bydrae lewer om die verlede te oorbrug.”
Die koalisie tussen die DA en die KGP (Karoo-Gemeenskapsparty) in Prins Albert werk goed, sê Steyn. “En ek het goeie mede-partylede in Linda Jaquet, onderburgemeester, en Stoffel Botes, speaker. Soos die burgemeester, Goliath Lottering, is hulle ervare politici. My bydrae as raadslid sal anders wees as my bydrae as DA-politikus,” meen Steyn. “In die raad is ons a-polities, maar in die DA wil ek help om nou al mense te identifiseer, sodat hulle sterk na vore tree in die volgende plaaslike verkiesing.”
Sy eie verkiesing as raadslid was nie maklik nie, sê Steyn. “Dis die eerste keer in my lewe dat ek in ’n werksonderhoud sit – dit was baie streng.”
Die lekkerte van Prins Albert is dat “die dorp klein genoeg is dat jy almal kan leer ken. Dis ’n mikrokosmos van ’n groot stad, en dis ’n voordeel. Jy kan jou vinger op ’n probleem lê. Hier is ’n verskeidenheid mense met verskillende agtergronde, en baie talent. Daar moet van hul kundigheid gebruik gemaak word. Prins Albert het ook nuwe werkverskaffers, soos ligte nywerhede, nodig, met toerisme en die landbou die groot ekonomiese steunpilare”.
Steyn is nie ’n man wat gou moedeloos raak nie. “Ek is ’n optimis. Die wiele draai altyd. En ek glo ons kyk nou na verandering in Desember met die leierskapsverkiesing van die ANC.”
Hy is getroud met Di Steyn, ’n juweliersontwerper en goud-en-silwersmid, wat ook voorsitter is van die Kweekvallei-waterraad. Hulle het twee kinders, Michaela (22) en Andrew (18).