Fokus op Hoogstraat – een van Oudtshoorn se eerste strate

Hoogstraat in 1920.

Hoogstraat in 1920.

Deur Ilze-Mari Gründling
Oudtshoorn is in 1847 vir die eerste keer deur die landmeter John Ford uitgelê as ’n dorp en een van die eerste strate was Hoogstraat.

Altesame 476 erwe is op die walle van die Grobbelaarsrivier uitgemeet.

Destyds was Baron van Reedestraat bekend as Queen Street, Adderleystraat as Agterstraat, Langenhovenweg as Georgeweg, Jan van Riebeeckweg as Western Road, Rademeyerstraat as Suidstraat en Van der Rietstraat eers bekend as Helmsdrif en later as Aschmanstraat. Voortrekkerweg was ook bekend as Markstraat of Market Street.

In Hoogstraat kan inwoners en besoekers die hede en die verlede ervaar. Daar is ou geboue wat in die 18de en 19de eeue gebou is en steeds gebruik word asook nuwer geboue wat veral klerewinkels huisves.
Die bekendste gebou in Hoogstraat is sekerlik die NG Moederkerk wat deur die argitek George Wallis ontwerp is. Daar is van 1861 tot 1879 aan die kerk gebou met die bouwerk wat twee keer gestaak is. Daardie tyd is net sandsteen gebruik om kerke mee te bou. Die model vir die vyf engelbeelde voor die kansel staan, was glo ene Maria van Rooyen van Oudtshoorn.

’n Paar interessante feite oor Hoogstraat:
• Die gebou waar FNB (Eerste Nasionale Bank) vandag staan, was in die laat 1800’s die kerk se kantoorgebou. Die bank het eers die gebou gehuur, toe gekoop en toe gesloop.
• Die eertydse Volkskas was in die gebou op die hoek van Hoog- en St Johnstraat waar Pep Stores nou is. Die gebou waarin Beans about Coffee nou is, is tydens die tweede volstruisbloeitydperk van 1902 tot 1914 gebou. Dit was destyds ’n bank!

Omstreeks dieselfde tyd is verskeie volstruispaleise op Oudtshoorn gebou. Dit sluit die NG Kerk-pastorie wat in 1881 gebou is, in. Die pastorie word steeds gebruik, met ’n gastehuis wat van­uit die opgeknapte pastorie bedryf word.

Die Le Roux Dorpshuis, wat ’n nasionale ge­denkwaardigheid en museum is, is nog ’n bekende baken in die straat. Die huis is in 1908 vir die Le Roux-gesin gebou wat gereeld bekendes en selfs koninklikes ontvang het. Onder hul gaste was prinses Alice, die hertog van Connaught en prinses Beatrice (in 1923); die Prins van Wallis (in 1925); prins George, Hertog van Kent, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in ’n vliegtuigongeluk ge­sterf het; Cecil John Rhodes; en die skrywer H Ryder Haggard.

Hoogstraat was oor die jare tot vandag nog altyd ’n bedrywige besigheidstraat. Destyds was die boere en die volstruisveerhandelaars onder Oudtshoorn se welvarendste mense.

Met ruilhandel wat destyds aan die orde van die dag was, het die boere nie met geld vir hul kruideniers- en ander ware betaal nie, maar dit vir landbouprodukte verruil.

Voor die koms van motors en ander meganiese ­voertuie, was waens en perdekarre aan die orde van die dag. Transportry met ’n volgepakte wa na die binneland, was die enigste manier waarop met binnelanders handel ge­dryf is.

Die vraag na waens, perdekarre en koetse was in ’n stadium so groot dat daar nege wamakers op die dorp was.

• Bronne: Dank aan Hazel Jon­ker vir haar hulp en kennis.
Ander bronne: https:// johannclaassen.wordpress.com; http://www. seligman.org.il/oudtshoorn _history.html; https://www. cpnelmuseum.co.za; www.oudtshoorninfo.com

8 High Street

Heelbo is ’n foto van Hoogstraat baie lank gelede. Soos die onlangse foto bo is dit duidelik dat Hoogstraat oor die jare baie bedrywig was. Albei foto’s is suidwaarts geneem.

Heelbo is ’n foto van Hoogstraat baie lank gelede. Soos die onlangse foto bo is dit duidelik dat Hoogstraat oor die jare baie bedrywig was. Albei foto’s is suidwaarts geneem.

Hoogstraat in 1952:  Foto bo: So het die suidelikste punt van Hoogstraat in 1952 gelyk. Die gebou waar Klein Karoo Motors en Hyundai Oudtshoorn vandag is, het destyds  W Spilhaus Landbougereedskap gehuisves.

Foto bo: So het die suidelikste punt van Hoogstraat in 1952 gelyk. Die gebou waar Klein Karoo Motors en Hyundai Oudtshoorn vandag is, het destyds W Spilhaus Landbougereedskap gehuisves.