Beboet / voed op / name en shame / zero tolerance / steek kers op by skoon Klaarstroom
Deur Liesel le Roux
HOE kan die Groter Oudtshoorn die vullismonster takel wat groot dele van die dorp ontsier?
Dit was ’n vraag wat Die Hoorn vandeesweek aan inwoners gevra het op ons Facebookblad. Die vraag het gevolg op ons redakteursbrief verlede week op bladsy 4 van Die Hoorn oor vullis wat deur inwoners gegenereer en roekeloos en onverantwoordelik neergegooi word op plekke soos straathoeke, in die Grobbelaarsrivier en by die ingang van Oudtshoorn vanaf De Rust.
Ons het gevra vir antwoorde en idees van vasberade en dapper inwoners wat saam die dorp wil verbeter. Ons het dié vrae gevra omdat ons sterk daaroor voel dat daar nie langer gewag kan word nie en dat inwoners saam moet begin bydra met idees. Dit is nou die tyd vir inwoners om te begin om dié monster stukkie vir stukkie te vermorsel.
Hier is hoe van die inwoners gereageer het en voorstelle wat hulle gemaak het. Stuur asb vir ons u voorstelle met u naam daarby – sms of WhatApp na 0732177089 of e-pos na nuus@hoorn.co.za of gee af by Die Hoorn. Kom ons hou die debat aan die gang en begin ’n beweging tot voordeel van die Groter Oudtshoorn.
• Christopher Campher: Dit is eenvoudig. Maak plek in begroting vir law enforcement.
• Michelle Sephton: Get the inmates at Correctional Services to clean it up for free. Then they are giving back to society instead of just taking.
• Andre Collin Barnard: Hierdie is ’n gesindheidsprobleem. Daar sal gekyk moet word na ’n “top-down”- benadering. Alle probleemareas moet geïdentifiseer word. Merk die areas as vullisstorting-areas. Plaas genoeg vullishouers uit en verwyder dit ten minste twee maal per week.
• Maureen Jansen van Rensburg: Mense moet geleer word dromme is daar vir vullis. Ek het al gesien mense loop langs ’n drom verby en gooi hul papiere langs die drom in plaas van in die drom.
• Sonja du Plessis Elke inwoner moet sy eie gemors hanteer. Sy eie erf skoonhou van gemors. Dan moet daar skips neergesit word, wat nie gesteel kan word nie. As elkeen net sy eie gemors optel tot by die volgende drom en ingooi, dan is die stryd halfpad gewen.
• Etienne Theart: Kinders moet van jongs af op skool en in hulle ouerhuise geleer wordt rommelstrooi is teen die wet en dan moet die wetstoepassers begin om mense aan te kla wat rommel strooi. Ek is bereid om te help opruim, maar dan moet diegene wat dit strooi, ook help.
• Stefanus Marnewick: Beboet diegene wat vullis neergooi. Hou op om die vullisbakke vir inwoners neer te sit. Dysselsdorp was ’n skoon plek. Vandat hier rooibruin vullisbakke neergesit is, het morsjorse gekom en hul huisvullis rondom die bakke gestort.
•Sydney-Agnes Opperman: Daar is al gewaarsku dat opgetree sal word teen morsjorse. Doen dit. Name and shame. Asseblief nie vullisbakke. Hulle gooi die gemors langs die vullisbakke en dromme neer. Zero tolerance was die sleutel tot die regrukaksie in een van Amerika se groot stede. Stel mense aan met guts (soos die “water laws” Koos Bollie-hulle van destyds). Dis deel van ons menseregte om in ’n skoon omgewing te woon .
• Henri Botes: Kom ons begin eerstens identifiseer wie is die mense wat so mors. Is dit die belastingbetaler wat betaal sodat die munisipaliteit die dorp moet skoon hou of is dit die wat wat nie betaal nie? Waar is die grootste probleemareas?
• Angelean Jaftha: Inwoners sowel as werkers kan net meer self-dissipline en respek toon deur nie vullis te stort nie, maar dis hartseer om te sien werknemers van die munisipaliteit stort self in mense se voor- /agterdeure vullis, en dooie diere.
• Henriëtte MacRae: Gee boetes uit vir die areas en mense wat so mors – die wat naweke orals so sit en piekniek hou en alles net so los. Begin die mense beboet en gee swaar strawwe. As jy mors moet jy kom skoonmaak.
• Jan Louw: As elkeen sy sypaadjie skoonmaak en skoonhou, sal daar ’n reuse verbetering wees. Dit kos geen geld nie, net bietjie moeite.
• Wilmar Matthee: Dis mense sonder selfrespek, geen respek vir die natuur of hulle omgewing nie en geen respek vir ander wat saam met hulle gemors moet lewe nie. Jy gaan dit nie beheer met wetstoepassing of enigiets anders nie. Kinders sien en leer dit by hulle ouers. As jy mense respek kan leer vir bg. sal dit resultate lewer, maar hoe op aarde swaai jy soveel mense se koppe?
• Andre Wiese: Ek het ’n week gelede van De Rust af teruggery Kaap toe. Net bokant Meiringspoort het ek besluit om te gaan kyk hoe lyk Klaarstroom. Is ek nie aangenaam verras deur die netjiese voorkoms van die dorp nie! Daar was nie ’n enkele stukkie rommel in die strate of in die inwoners se erwe te sien nie. Pragtig skoon en netjies! Ek wil Klaarstroom se inwoners en dorpsbestuur gelukwens! Kom sê gerus vir ons ander hoe julle dit regkry.
• Dawid Fourie: Kan besighede nie gedeeltes van die rivier “aanneem” nie? Hulle sorg dan dat dit skoon bly.
• Stephanus Jesaja Heunis: Herwin! ’n Geldjie vir die haweloses / straatkinders en parmantige karwagte.
• John Gertse: Die munisipaliteit moet by die Bridgton Sportgronde die hoek toekamp en ’n bord daar sit. Ek bly ook daar by die plate en daar sit ’n kerk en mense hou ook begrafnisse daar – dit ruik vrot. Ons is moeg van die vullismonster hier in Oudtshoorn.