Die eienaars van die PNA op Oudtshoorn, Louis en Erika Fourie by hul personeel. Voor staan Elsa du Preez. Middel van links is Sarie Oktober, Gerna Nortier, Lilian Fredericks, Gussie Gerber en Katy Koekemoer, en agter van links is Etienne Kriel, Erika en Louis Fourie, Mariette Mortlock en Magda Berry. Foto: Die Hoorn
PNA brei verskeie kere uit
DIE PNA op Oudtshoorn het op Dinsdag 1 Augustus ’n besondere mylpaal bereik toe dié suksesvolle winkel sy 20ste verjaardag op Oudtshoorn gevier het!
Louis en Erika Fourie het in 1997 uit Pretoria na Oudtshoorn verhuis om die PNA op 1 Augustus 1997 op Oudtshoorn te begin. En hoewel die eerste aantal jare moeilik was en hulle baie van besigheid moes leer, was alles oor en oor die moeite werd, sê Erika.
Die Fouries het intussen ook twee ander PNA-winkels gekoop, die eerste in 2005 in Yorkstraat, George en die tweede in 2015 in die Eden Meander Lifestyle Centre in George.
Die Oudtshoorn-PNA is vandag meer as dubbeld sy oorspronklike grootte nadat dit reeds twee keer vergroot moes word. Dié vergrotings het gepaard gegaan met groot uitbreidings aan hul produkreekse oor die afgelope jare, veral in die kuns-, handwerk- en stokperdjie-afdelings.
Hulle is dankbaar oor die pad wat hulle die afgelope 20 jaar met PNA kon loop, sê Erika.
“Die belangrikste vir ons is dat ons vir soveel mense kon werk skep. Dit is ook vir ons belangrik dat dit goed moet gaan met ons personeel.”
Die aanvanklike personeel van drie mense op Oudtshoorn staan nou op nege. Tel mens die personeel van die George-winkels by, verskaf die Fouries se drie PNA-takke werk aan 24 mense.
Twee van die Oudtshoorn-personeellede, Gussie Gerber en Etienne Kriel, is boonop onderskeidelik 20 en 17 jaar al in diens van die PNA.