
Die Vryburger Omgeemense van Oudtshoorn het verlede Saterdag, 14 September, hul jaarlikse wynveiling gehou.
Die veiling met ’n gepaardgaande driegangmaaltyd is by die Cape Karoo Ostrich Emporium gehou. Abri Ferreira het as afslaer opgetree en volgens terugvoer van die organiseerders het hy die taak uitstekend en in ’n ligte luim hanteer wat tot die sukses bygedra het.
Vanjaar was die dertiende wynveiling van die Vryburger Omgeemense en volgens hulle basuin, Fanie Fourie, was dit die veiling met die hoogste opbrengs ooit. Die wynveiling stel die Vryburgers in staat om die meeste van hul bestaande en toekomstige gemeenskapsprojekte vir die jaar te kan befonds.
“Die Vryburgers Omgeemense van Oudtshoorn is baie dankbaar vir elke persoon se bydrae voor en op die aand wat gehelp het om van die funksie ’n reusesukses te maak,” het Fourie hierdie week gesê. (Deur Hannes Visser)