Abri slaan toekenning los

Abri Ferreira (links) ontvang sy toeke-nning van Dr Willie Cilliers van die AHI. Foto verskaf

Gelukwense het die afgelope week ingestroom nadat Abri Ferreira, eienaar van Alert Patrol, verlede week as die AHI / Die Burger / Netwerk 24 se Opkomende Sakeleier van die Jaar aangewys is. Hy het die toekenning van Dr Willie Cilliers van die Afrikaanse Handelsinstituut tydens ’n glansgeleentheid in Kaapstad ontvang.

Abri het die onderneming in 2017 gekoop en die naam na Alert Patrol verander. Op daardie stadium het die besigheid 28 wagte, 32 alarms en ’n klein aantal kantoorpersoneellede gehad. Binne slegs sewe jaar is Alert Patrol in beheer van sekuriteitskantore in Oudtshoorn, George, Mosselbaai en Danabaai met meer as 1 500 wagte, 3 000 alarms en meer as 30 kantoorpersoneellede. Die onderneming het ook ’n gewapende reaksie- sowel as ’n honde-eenheid.

Oor sy toekenning sê Abri: “Dit was vir my ongelooflik om erkenning te kry en in die teenwoor-digheid te wees van die bekendste sakelui in die land. Ek is groot dank verskuldig aan die mense wat my ondersteun en ook aan al die personeel van Alert Patrol.”

Abri sê die strawwe kompetisie en die streng keuring het hom opnuut laat besef van watter kaliber die sakesektor in die land gemaak is en hoe innoverend sakelui moet wees.

“Ons moet besef dat ons nie net tot Oudtshoorn beperk is om ’n inkomste te genereer nie. Ek kan nie verduidelik hoeveel geleenthede buite die dorp is en hoe wyd dit versprei is nie. Ek dink Covid het ons almal anders laat dink en anders laat beplan en dit maak nuwe gleenthede oop.” Hy noem dat sekuriteit die kern van Alert Patrol is, maar dat die maatskappy ook op talle ander terreine sake doen. “’n Mens moet net bewus wees van behoeftes en dan geleenthede gaan soek om die behoeftes te vul. Geen onderneming kan net sit en wag dat besigheid by die deur inkom nie.”

Die Oudtshoorn Besigheidkamer is een van die sterkste sakekamers in die omgewing en as voorsitter sê Abri dat die belangrikheid van sulke organisasies nooit onderksat moet word nie. “Die waarde daarvan om gereeld met ander besighede te skakel en netwerkgeleenthede by te woon is vir my ’n kardinale deel van enige onderneming.” (Deur Hannes Visser)