Die omstandighede rondom die dood van Willem Goliath (59) van Oudtshoorn word tans deur die polisie ondersoek. Goliath was ten tye van die voorval op pad na sy niggie se begrafnis.
Volgens Sers. Chris Spies, media- skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, is Goliath Saterdag, 14 Maart 2026, naby die kanaal in Bongolethu met klippe gegooi en ernstig beseer. “Hy is met kopbeserings na ’n plaaslike hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings beswyk het,” lui die verklaring.
Die voorval het sterk reaksie uit die gemeenskap ontlok. Na aanleiding van verskeie Facebook kommentare op die oorspronklike voorval, blyk dat die aanval moontlik deur kinders gepleeg is, alhoewel dit nog nie amptelik bevestig kon word nie.
Intussen is ’n kranslegging deur die gemeenskapsgroep, Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), onder leiding van Leon Campher gereël vir Donderdag om 15:00 gehou op die plek waar die voorval plaasgevind het.
Die verdagte of verdagtes is steeds op vryevoet en geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie.
Sy begrafnis word vir Saterdag 28 Maart beplan. Meer inligting sal later beskikbaar wees.
Die polisie doen ’n beroep op enige persoon met inligting wat die ondersoek kan help, om die Oudtshoorn Polisie te kontak by 044 203 9000 of vir Crime Stop by 08600 10111. (ANGELIQUE ERASMUS)
Wrede klipgooi dood skok dorp
Bo: Willem Goliath het Saterdag aan sy wonde beswyk na hy met klippe gegooi is op pad na sy niggie se begrafnis.
Foto: Facebook