Ses dekades van sorg

Suster Truida Steyl en die kliniekkat Pofkop. Foto verskaf

Vir sestig jaar lank was sy daar, by die begin van lewe, by moeilike diagnoses, by laaste afskeide. Nou groet suster Truida (78), ’n bekende en geliefde gesig in Oudtshoorn en omliggende gemeenskappe, na ’n lewe van onbaatsugtige diens.

Truida Steyl (neé Strydom) het in Jeffreysbaai grootgeword waar haar kinderjare tussen branders, son en strand afgespeel het totdat sy 18 jaar oud was. Skool was egter nie altyd maklik nie. Sy het met disleksie gesukkel in ’n tyd toe daar nog min begrip of ondersteuning daarvoor was.

“Onderwysers was nie baie goedgesind nie,” vertel sy. “Maar as iemand my kennis getoets het, kon hulle hoor ek weet waarvan ek praat.”

Haar liefde vir versorging het vroeg reeds na vore gekom. Volgens haar gaan dit eenvoudig oor omgee. “Ek wou selfs veearts word. Vir my gaan dit oor die versorging.”

Sy het haar verpleegopleiding in Pretoria begin by die destydse HF Verwoerd Hospitaal, vandag bekend as Steve Biko Hospitaal. Dit is ook hier waar sy haar man, Koos, ontmoet het. Drie jaar later is die twee getroud. In 1983 het die egpaar na Oudtshoorn verhuis toe Koos se werk hulle hierheen gebring het.

Truida het kort daarna in die kraamsaal begin werk, ’n plek wat haar geloof en toewyding op baie maniere sou vorm. “Om ’n baba veilig in die wêreld te help bring is die belangrikste ding,” sê sy. “Ek het nog nooit voorheen so hard gebid soos in die kraamsaal nie.”

Oor die jare het sy honderde babas gehelp om hul eerste asem te haal. Van die oomblikke wat die meeste by haar bly, is wanneer dinge nie volgens plan verloop nie. Sy vertel hoe dit voel wanneer ’n geboorte moeilik raak en ’n baba vassit. “As jy sukkel om die kind uit te kry, en dan kry jy hom tog uit en sit die kind lewendig in sy ma se hande, dit is ’n besonderse gevoel.”

Truida en Koos het drie kinders, Jaco, Rudi en Maryke, en vyf kleinkinders. Truida vertel dat haar ouers ’n groot rol gespeel het in die vorming van haar waardes en werksetiek. Hulle het in nederige omstandighede grootgeword, en haar ma het die gedagte gekoester om eendag self te gaan verpleeg.

“By my ouers het ek my werksetiek geleer en dit het vir my oor die jare baie beteken.”

Gedurende haar loopbaan het sy by verskeie instansies in Oudtshoorn en omliggende gemeenskappe gewerk. In haar latere jare was sy ook betrokke by FAMSA Karoo, waar sy gemeenskappe in De Rust en Dysselsdorp bedien het.

Volgens haar het daardie werk haar perspektief op die lewe verdiep. “Dysselsdorp het my plat terug aarde toe gebring,” sê sy. “Ek het weer geleer oor dankbaarheid en dat ’n mens nie baie nodig het nie.” Vir Truida het verpleegkunde altyd oor meer as net mediese sorg gegaan.

Sy glo eerlikheid en menslikheid is net so belangrik wanneer ’n mens met pasiënte werk. “Daardie onsekerheid kan baie van iemand wegneem. Ek sou eerder daardie ongemaklike gesprekke voer sodat pasiënte weet wat vir hulle voorlê.”

Deur die jare het sy by mense se vreugdes en moeilikste oomblikke gestaan, en sy sê dit was net moontlik omdat sy op God gefokus het om sterk te bly. Ten spyte van haar ouderdom, beskryf vriende en bure haar as energiek en avontuurlustig.

Sy lag wanneer sy daaroor praat en erken dat sy eenvoudig nie van stilsit hou nie. “As daar ’n sproeier aan is, sal ek nog deur dit hardloop,” skerts sy. “Ek sien die glas half vol.”

Haar buurvrou, Annalize Kruger Schutte, sê: “Sy is die jongste byna-80-jarige wat ek ken. As dit reën hardloop sy kaalvoet om die huis. As dit nie reën nie, hardloop sy wydsbeen oor die sproeier op die gras. Sy ry see toe om bietjie te swem in die branders, sy ry wipplank, reksprong, kan langer plank as ’n skoolkind en wil gaan katte oppas op ’n Griekse eiland na aftrede.”

Truida se energie en liefde vir mense strek verder as die hospitaal of kraamsaal. Sy het altyd tyd vir haar bure, vriende en selfs diere. Toe sy gevra is of ’n foto van haar geneem kan word, het sy dadelik haar foon uitgehaal en ’n foto gewys van haar in haar uniform saam met ’n kat, iets wat sy sê, haar baie goed uitbeeld. Dit is ’n klein beeld van hoe sy oor die jare geleef het: met sorg en ’n oop hart vir alles en almal rondom haar.

Wat sy die meeste gaan mis van haar werk, is die mense. Sy vertel hoe sy elke oggend mense met ’n vrolike “Goeiemôre my sonskyn” begroet het, iets wat sy hoor baie mense reeds mis.

Truida het nie net plaaslike gemeenskappe bedien nie, maar het internasionaal gereis – soms vir uitreike, soms bloot as toer – meestal saam met sendelinge, waar hulle gewoonlik op ’n maer begroting (soos hulle sê, “op ’n shoestring”) geleef het.

Sy was al in Indië, Japan, Portugal, Israel, Spanje, Zambië, Zimbabwe, Marokko en Zanzibar. Dit was vir haar altyd ’n belewenis om nuwe plekke en mense te leer ken, en haar tyd in Japan was vir haar besonder spesiaal. Een herinnering wat besonders by haar bly, kom van ’n uitreikprojek in Indië, waar ’n dogtertjie van sowat nege jaar oud vir haar ’n gekookte eier aangebied het, ’n groot bederf in moeilike omstandighede.

“Om te sien hoe iemand wat so min het nog steeds met ope arms sal deel, het my diep geraak,” sê sy.

Nou sien Truida uit na ’n rustiger ritme van die lewe. Sy beplan om meer te lees, op die stoep te sit en tyd saam met haar man deur te bring. “Dit is lekker dat ek en my man nou op die stoep ’n glasie wyn kan geniet sonder dat ek oor werk hoef te bekommer,” vertel sy. Sy sien ook daarna uit om by ’n

Bybelstudiegroep aan te sluit, iets waarvoor sy voorheen nooit tyd gehad het nie.

FAMSA Karoo sê hulle neem met “harte vol dankbaarheid en diepe respek” afskeid van suster Truida. Hulle beskryf haar as meer as ’n verpleegster: ’n draer van hoop en troos, en vir baie ’n tweede ma.

Geslagte kinders is onder haar sorg gebore, ouer mense het met waardigheid afskeid geneem, en families het krag geput uit haar kalmte en kundigheid. Nou wens hulle vir haar rus, vreugde saam met familie en gesondheid om nog baie sonsondergange in die Klein Karoo te geniet.

Wanneer sy terugkyk oor haar 60 jaar se diens, sê sy haar grootste trots is eenvoudig dat sy haar roeping met oorgawe uitgeleef het.

“Ek het gedien en my bes gegee. Behandel mense soos jy behandel wil word. Wees jouself en doen elke dag met blymoedigheid.” (MALISSA SPIES)