Word beKOOR by die Klein Karoo Klassique

Die Voces Cordis-koor, onder leiding van die gevierde koorleier André van der Merwe, is vir die eerste keer op die verhoog by Klein Karoo Klassique. Foto verskaf.

“Musiek wat met die hart praat – toeganklik, roerend met diep menslikheid.” Dít is wat liefhebbers van koormusiek volgens die gevierde koorleier André van der Merwe, kan verwag wanneer 65 koorlede van die Voces Cordis-koor op Sondag 10 Augustus om 12:30 vir die eerste keer op die verhoog by Klein Karoo Klassique verskyn.

Van der Merwe is ook die musikale direkteur van die Universiteit Stellenbosch-koor (sedert 2003) en het pas teruggekeer van die Interkultuur Europese Koorspele en Grand Prix of Nations 2025 in Aarhus, Denemarke, waar hulle drie goue medaljes verower het.

Hulle program bied ’n musikale reis wat die essensie van die koor vasvang – beide as individue en as ’n kollektiewe stem – met ’n uiteenlopende keuse werke, van ’n tradisionele Kavango-gebed en Laura Jēkabsone se energieke “Gloria”, tot Brent Wells se roerende “It Is Well With My Soul”, Jacob Collier se “Little Blue”, en die geliefde Afrikaanse lied “Voshaarnooi”.

Die koor se naam, Voces Cordis, wat “stemme van die hart” beteken, weerspieël die koor se gees. Van der Merwe verduidelik dat die repertoire gekies is om die diversiteit van die koor te weerspieël – ’n ryk mengsel van persoonlikhede, agtergronde en lewenservarings.

“Ons lede is volwassenes wat besige lewens lei: Hulle balanseer loopbane, gesinsverantwoordelikhede, skoolroosters, besighede, en kry dit steeds reg om tyd te maak vir repetisies en om komplekse musiek te memoriseer,” sê hy.

“Klein Karoo Klassique bring nie net die gemeenskap van Oudtshoorn byeen nie, maar skep ook ’n lewendige platform waar klassieke musiek op verskeie maniere gevier word – hetsy deur sang, klavier, orrel of snaarinstrumente.”

“Dit vier die rykdom en diversiteit van die genre op ’n manier wat toeganklik én inspirerend is.”

“Dis vir ons ’n eer om deel te wees van hierdie viering van klassieke musiek in sy sestiende jaar.”
Die idee vir Voces Cordis het ontstaan toe Van der Merwe ’n pasiënt van een van sy voormalige koorlede was.

“Tydens elke besoek het die onderwerp van ’n volwasse koor opgekom, totdat die idee uiteindelik posgevat het. Van die eerste oudisies was dit duidelik dat hierdie koor iets besonders sou wees.”

“Baie van hulle was bekende gesigte of oud-lede van Pro Cantu Jeugkoor, Stellenberg Meisieskoor en die Universiteit Stellenbosch-koor.”

“Dit het gevoel soos ’n natuurlike hereniging van stemme wat al voorheen saam gereis het – nou gereed om iets nuuts te skep.”

“En dít inspireer ons span elke keer,” sluit hy af.

Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.