Eljada juig oor skenking van R103 000

Die opwinding was groot toe spesiale geskenkpakkies uitgedeel word, Tino het, nadat hy almal vermaak het, die pakkies uitgedeel. Foto: Angelique Erasmus Onder: Etienne Janse van Rensburg (KKS, Produksiebemarker), Ankia Smith (Eljada Nasorg, Be-stuurder: Ontwikkeling), Marylin le Roux (Eljada Nasorg, Bestuurder: Huishoudelik)  David Malan (Besturende Direkteur van KKS) neem die tjek in ontvangs. Foto: Ilse Jordan Heelonder: Die wenspan: Erik-Jan Bartels (spanmaat), Etienne Janse van Rensburg, Bruno Hoeltgebaum (Incotec) en Erik Vesseur (Spanmaat) in Turkye. Foto verskaf

Eljada Nasorgsentrum vir volwassenes, op Oudtshoorn het Woensdagoggend ’n groot geskenk ontvang in die vorm van ’n tjek vir R103 149. Prysgeld van €5 000 is aan Eljada geskenk, deur Etienne Janse van Rensburg van Klein Karoo Saadproduksie, asook Erik Vasseur en Erik-Jan Bartels van Nederland, nadat hulle ’n gholf-dag by die International Seed Federation (ISF) Congress vanaf 19-21 Mei 2025, in Istanbul, Turkye gewen het.

Die gholfdag en prysgeld word deur ’n internasionale maatskappy, Inotec, geborg en word juis gereël om ’n goeie netwerkgeleentheid te skep vir almal wat die kongres bywoon. Spanne het by die pragtige Kemer Golf Country Club in Istanbul gespeel.

Die ISF-kongres is die grootste kongres van sy soort ter wêreld. Vanjaar het 1 600 persone van 70 lande dit bygewoon. Die kongres word elke jaar in ’n ander land aangebied.

Volgens Janse van Rensburg het dit die dag van die gholf toernooi begin reën.

“Nie eens die reën kon ons keer nie, die ervaring was wonderlik gewees,” vertel Janse van Rensburg.
Hy wou graag die geld aan ’n plaaslike instansie skenk en het dadelik aan Eljada nasorgsentrum gedink.

Sy spanmaats het ingestem omdat hul van mening was dat sy bydrae die grootste tot hul oorwinning was en daarom kon hy kies aan watter instansie hulle span die geld sal skenk.

“My gevoel was om hierdie geld terug te bring na ’n instansie wat my baie na aan die hart lê. Die werk wat Eljada Nasorgsentrum verrig is ongelooflik en ek het geweet die donasie sal reg aangewend en die beste hier bestee word,” sluit hy af.

Personeellede van Klein Karoo Saad se filiale, Klein Karoo Saadproduksie, Agrofors en Seed Quality Services, het die inwoners van Eljada be-derf met spesiale geskenkpakkies vol bederf-items, asook heerlike wit, groen en pers kolwyntjies om van te kies ter viering van Mandela-dag.

Tino Singe, die bekende Afrikaanse sanger, en ook ’n personeellid by die instansie, het die oggend vir vermaak gesorg met sy kitaar, mondfluitjie en bekende treffers. Die voete het behoorlik gejeuk en inwoners het lekker saam gesing en gedans. (ANGELIQUE ERASMUS)