Groot nood in die Klein Karoo vir warm komberse

Baie gesinne in die Klein Karoo slaap saans onder min tot geen komberse. Foto Facebook.

Pediatric Care Africa is tans besig met ’n projek om komberse en beddegoed vir huishoudings en kinders in die Klein Karoo in te samel.

“Dit het onder ons aandag gekom dat daar ongelooflik baie huishoudings is wat min tot geen beddegoed besit nie, en slegs in hul klere slaap,” vertel Dr André Hattingh.

Hattingh het vroeër vanjaar 500 km per don-kiekar aangepak om geld in te samel vir kinders met serebrale gestremdhede.

Enige komberse en beddegoed is welkom, en kan by Hattingh se kantoor by Le Rouxstraat 3, De Rust afgelaai word.

Anders kan dit ook by Die Hoorn se kantoor, by die KKSP Gebou, Koöpersiestraat, Oudtshoorn (044 272 5605) afgegee word.

Hulle bereid om groot hoeveelhede skenkings op te laai

“Ons sal ook enige seuns en dogtersklere skenkings verwelkom vir enige ouderdomme, van babas tot tieners,” voeg hy by.

Met die kwik wat in die lae syfers draai in die oggende en ryp wat grasperke en veld spierwit vol lê is daar beslis ’n groot behoefte aan items wat warm kan hou.

Kontak gerus vir Hattingh by 076 229 5663 vir meer inligting of om betrokke te raak by hierdie projek. Enige skenkings kwalifiseer ook vir ’n 18A belastingsertifikaat wat deur Pediatric Care Africa uitgereik kan word. (ANGELIQUE ERASMUS)