Winkeldief rol al weke lank op dorp weg sonder enige gevolge…

’N MAN in ’n rolstoel steel klaarblyklik die afgelope maand wild en wakker in Oudtshoorn se middedorp; en dit is juis sy rolstoel wat hom elke keer uit die warm water kry.

Op die Facebook-blad van Oudtshoorn Crime Watch is die man op twee verskillende plekke op video vasgevang waar hy by winkels steel.

Volgens Harry Coetzee van Blacklist Security word die man soms deur iemand vergesel wat sy rolstoel stoot, maar dit is nooit dieselfde persoon wat hom help nie.

Coetzee sê die man in die rolstoel word nie altyd “gevang” nie, “want mense kry hom jammer, dan haal hulle sommer net die gesteelde goed uit sy rolstoel uit.”

Dié dief op wiele het volgens Coetzee al by ’n vulstasie-winkel gesteel waar hy gevra is om die gesteelde goedere terug te gee; hy het by ’n drankwinkel gesteel waar hy ook gevra is om die goedere terug te gee “voor hy moeilikheid kry”; en hy het by ’n klerewinkel goed gevat.

Coetzee sê dat maatskaplike werkers te hore gekom het van die man, en dat hulle versoek het dat mense klagtes teen hom indien wanneer hy gevang word.

Verder weet Coetzee van twee ander voorvalle waar die man goedere gesteel het by onder meer ’n besigheid wat motoronderdele en visvanggereedskap verkoop, en ook by ’n DVD-winkel.

“Daar is wel ’n saak geopen na die voorval by die DVD-winkel,” sê hy. Coetzee sê die man se naam, asook een van sy trawante wat hom rondstoot, is bekend aan die polisie.

’n Navraag oor die vlaag diefstalle is aan die Oudtshoorn Polisie gestuur, maar die man se naam is nie aan Die Hoorn bekend nie. Sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, sê die polisie dra nie kennis van enige voorvalle nie, en dat ’n naam moontlik sou help. (Deur Stefan Skapie Goosen)