DAAR is nog enkele kaartjies beskikbaar vir Klassieke Klein Karoo Kersfees, wat hierdie Saterdag (12 Desember) in die buitelug op die granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word.
Die sangers Corlea Botha en Jannie Moolman repeteer môre (Vrydag) saam met die Suid-Kaap Kinderkoor op George.
Die Covid-19-pandemie het sy eie unieke uitdagings gebring en die organiseerder van die konsert, Gerhard Meyer, het onder andere spesiale reëlings met die bestuur by die George Lughawe getref dat Corlea en Jannie van die vliegtuig af direk na ’n wagtende motor kan beweeg vanwaar hulle vertrek na ’n lokaal vir die repetisie.
Weens die inperkings is hierdie optrede die eerste en enigste van die jaar vir die Suid-Kaap Kinderkoor.
Volgens die koorleier, Jan-Erik Swart, is die kinders baie opgewonde oor die vooruitsig om saam met Corlea en Jannie op te tree.
Op die plaas sal alle Covid-reëls toegepas word sodat almal die konsert met ’n geruste hart kan bywoon en dié moeilike jaar op ’n feestelike en gepaste manier kan afsluit saam met familie en vriende.
Dié konsert, wat vanjaar vir die derde keer aangebied word, is reeds ’n instelling op die Desember-kalender.
Al die gewildste Kersliedere is op die program, asook klassieke treffers en interessante verwerkings.
Dit sluit liedjies in soos “Stille Nag”, “Jerusalem” en “O Holy Night/Dis Kersfees”, asook klassieke treffers soos “Love Changes Everything”, “Panis Angelicus” en “O Sole Mio”.
Konsertgangers kan ook uitsien na “Karoonag”, “Somerkersfees” en “Gebed”.
Die koor en soliste word begelei deur die Stellenbosch Stadsorkes onder die leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.
Die konsert begin om 19:30 en die kos- en wyn-stalletjies is reeds van 18:00 af oop.
Plaaslike restaurante en wynkelders sorg vir iets te ete en te drinke voor die vertoning begin asook tydens pouse.
Kaartjies kos R200 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by Postnet Oudtshoorn.
Dit is alles gereserveerde sitplekke op stoele.
Die plaas is 30 km buite Oudtshoorn, rigting Calitzdorp en geen grondpaaie hoef gery te word nie.
Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 0828027138.
• Die Hoorn is die mediaborg van die konsert.