Baanbrekers-rioolprojek by Dysselsdorp kry befondsing

DIE baanbrekerswerk van Trapsuut­jies Projekte en die MSc-student Phi­lippa Davis by die Dyssels­dorp- riool­aanleg het op 30 November belangrike erkenning én befondsing ontvang om hul werk voort te sit.

Hul drywende vleiland-projek, wat die verbetering van uitvloei-water­kwaliteit in die kollig plaas en verrei­kende voordele kan hê vir rioolplase regoor Suid-Afrika, is een van sewe projekte in Suid-Afrika wat erkenning en gepaardgaande befondsing ontvang het van die Suid-Afrikaanse regering se Water Research Commission (WRC) en die Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram in Afrika.

Die WRC is in 1971 gestig om waternavorsing in die land te verbeter en te bevorder.

Die projek by die Dysselsdorp-riool­aanleg behels die plasing van kuns­matige drywende vleilande in die kontakbane van die rioolaanleg om, volgens Davis, ongewenste mikro­bes en nutriënte uit die rioolwater te onttrek. Die kontakbane is die laaste proses waardeur die rioolwater gaan voordat dit weer in die natuurlike waterstelsel inloop.

Davis sê die doel hiervan is om die water wat uitvloei sodanig te suiwer dat dit veilig is om weer in natuurlike waterstelsels vrygelaat te word.

Die erkenning beteken dat Trap­suutjies dié projek verder sal kan uitbrei. Davis sê dit is ’n groot eer om betrokke te wees by die projek wat gekies is uit 35 inskrywings van reg­oor die land wat vir die befondsing aansoek gedoen het. Volgens Davis was al die aansoeke baie innoverend was, maar is gevind dat sewe – waaronder die Trapsuutjies-projek – bo die res uitgestaan het.

Die befondsing maak dit moontlik dat die projek oor ’n langer tydperk voortgesit kan word.

“Ons sal nog filtration cells in die kontakbane plaas wat nie net met filtrering help nie, maar wat ook die goeie bakterieë help om te floreer en sodoende help met die suiwerings­proses. Ons gaan ’n bykomende dertig drywende platforms vir die papkuil kan opstel wat ongewenste mikro­bes en nutriënte uit die rioolwater onttrek, en ons sal ook kan begin toets vir swaar metale in die uitloopwater,” sê sy.

Die toetsing vir swaarmetale sal Trapsuutjies toelaat om die moontlike gebruik van die water vir landbou te bepaal. “Ons sal kan bepaal of die water gepas is om te gebruik vir nie-voedselgewasse. Dit kan ons in staat stel om plaaslike ontwikkeling te be­vorder en die lading op die na­tuur­like waterstelsel te verminder, ook om moontlik werksgeleenthede te skep maar hoof­saaklik seker te maak dat geen skadelike swaarmetale in die ekostelsel beland nie.”

Volgens Davis het die befondsing reeds ingeskop en is die Trapsuutjies-span hard aan die werk. (Deur Stefan Skapie Goosen)