DIE baanbrekerswerk van Trapsuutjies Projekte en die MSc-student Philippa Davis by die Dysselsdorp- rioolaanleg het op 30 November belangrike erkenning én befondsing ontvang om hul werk voort te sit.
Hul drywende vleiland-projek, wat die verbetering van uitvloei-waterkwaliteit in die kollig plaas en verreikende voordele kan hê vir rioolplase regoor Suid-Afrika, is een van sewe projekte in Suid-Afrika wat erkenning en gepaardgaande befondsing ontvang het van die Suid-Afrikaanse regering se Water Research Commission (WRC) en die Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram in Afrika.
Die WRC is in 1971 gestig om waternavorsing in die land te verbeter en te bevorder.
Die projek by die Dysselsdorp-rioolaanleg behels die plasing van kunsmatige drywende vleilande in die kontakbane van die rioolaanleg om, volgens Davis, ongewenste mikrobes en nutriënte uit die rioolwater te onttrek. Die kontakbane is die laaste proses waardeur die rioolwater gaan voordat dit weer in die natuurlike waterstelsel inloop.
Davis sê die doel hiervan is om die water wat uitvloei sodanig te suiwer dat dit veilig is om weer in natuurlike waterstelsels vrygelaat te word.
Die erkenning beteken dat Trapsuutjies dié projek verder sal kan uitbrei. Davis sê dit is ’n groot eer om betrokke te wees by die projek wat gekies is uit 35 inskrywings van regoor die land wat vir die befondsing aansoek gedoen het. Volgens Davis was al die aansoeke baie innoverend was, maar is gevind dat sewe – waaronder die Trapsuutjies-projek – bo die res uitgestaan het.
Die befondsing maak dit moontlik dat die projek oor ’n langer tydperk voortgesit kan word.
“Ons sal nog filtration cells in die kontakbane plaas wat nie net met filtrering help nie, maar wat ook die goeie bakterieë help om te floreer en sodoende help met die suiweringsproses. Ons gaan ’n bykomende dertig drywende platforms vir die papkuil kan opstel wat ongewenste mikrobes en nutriënte uit die rioolwater onttrek, en ons sal ook kan begin toets vir swaar metale in die uitloopwater,” sê sy.
Die toetsing vir swaarmetale sal Trapsuutjies toelaat om die moontlike gebruik van die water vir landbou te bepaal. “Ons sal kan bepaal of die water gepas is om te gebruik vir nie-voedselgewasse. Dit kan ons in staat stel om plaaslike ontwikkeling te bevorder en die lading op die natuurlike waterstelsel te verminder, ook om moontlik werksgeleenthede te skep maar hoofsaaklik seker te maak dat geen skadelike swaarmetale in die ekostelsel beland nie.”
Volgens Davis het die befondsing reeds ingeskop en is die Trapsuutjies-span hard aan die werk. (Deur Stefan Skapie Goosen)