Terrein reeds voorberei vir bouwerk aan sentrum

PLANNE vir ’n groot winkelsentrum naby Oudts­hoorn se ingang vanaf George is stadig maar seker besig om te realiseer… Dié winkelsentrum is die inisiatief van ’n privaat-ontwikkelaar en sal op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat gebou word. Dit beteken dat die ontwikkelaar die projek inisieer en befonds.

Die winkelsentrum is een van verskeie ontwikkelings wat die Groter Oudtshoorn se burgemees­ter, Chris Macpherson, verlede week bekend ge­- maak het.

Na verneem word, is onderhandelings vir dié betrokke sentrum met anker- en ander huurders afgehandel of in die finale stadium. Daar is aan Die Hoorn gesê dat meer inligting vroeg in die nuwe jaar bekend behoort te wees.

Die Oudtshoorn-raad het reeds dié privaat-ont­wikkeling goedgekeur, met ’n aantal voorwaardes waaraan dit moet voldoen. Hieronder tel aspekte soos dat die koste vir elektriese en siviele werk deur die ontwikkelaar betaal word.

Die munisipaliteit het ook aanbeveel dat verkeersligte op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat geïnstalleer word om verkeersvloei na die sentrum te beheer, iets wat wyd deur inwoners verwelkom behoort te word omdat dit ook die verkeersvloei in Langenhovenweg sal kalmeer.

’n Verkeersirkel sal op die hoek van Rademeyerstraat en Jan van Riebeeckweg gebou word.

Macpherson het in ’n persverklaring oor nuwe ontwikkelings wat vir die Groter Oudtshoorn in die vooruitsig gestel word, na dié sentrum as ’n streeks­winkelsentrum verwys as gevolg van die grootte en wat dit aan inwoners van die Suid-Kaap en Karoo sal kan bied.

• Dié ontwikkeling is een van verskeie privaat-ontwikkelings wat ontwikkelaars tans op Oudts­hoorn beoog.

Hieronder tel ’n ligte nywerheids- en handels­ontwikke­ling wat Klein Karoo Beperk in Parkweg beoog en waaroor Die Hoorn reeds vroeër berig het; nuwe planne van ’n ontwikkelaar om voort te gaan met ’n winkelsentrum in Bridgton wat op die behoeftes van die inwoners van die omgewing gaan fokus; die vestiging van ’n swaarnywer­heidsgebied buite Oudtshoorn; ’n sonenergieprojek naby Dysselsdorp waaraan reeds lank gewerk word; ’n kantoor/hotelkompleks asook ’n privaat-daghospitaal.

• Macpherson sê hy glo dié belangstelling van ont­wikkelaars om in Oudtshoorn te belê, sal hoop bied aan inwoners, en tot werkskepping en verdere groei lei. (Deur Liesel le Roux)