Windbuksskoot eis 15-jarige se lewe

’N FRATSONGELUK verlede Donderdag (13 Augustus 2020) het die lewe van ’n 15-jarige ma van ’n baba buite De Rust geëis.

Shamiela Adams van die Aangenaam-plaasgemeenskap buite De Rust is volgens die stasie­bevelvoerder van die De Rust Polisie, kapt Gert Fourie, per ongeluk deur ’n windbukskoeël in haar armholte getref. Sy is egter noodlottig beseer.

Fourie sê die voorval het plaasgevind toe ’n 13-jarige seun die windbuks in die huis ontdek het.

“’n Skoot is per ongeluk afgevuur en het haar in haar armholte getref. Die nadoodse ondersoek se resultate wys dat die koeël haar long getref het, en toe ’n aar. Sy is aan inwendige bloeding dood,” het Fourie Woensdag (19 Augustus) gesê.

Die saak word steeds verder deur die polisie ondersoek.
Joel Immermann op wie se eiendom die voorval plaasgevind het, sê hy en Shamiela se familie is heeltemal gebroke oor die ongeluk.

Shamiela se oom, Sam, is ’n werknemer van Joel.

Volgens Joel het Sam hom die Vrydag vertel wat gebeur het. “Hy was hartseer en gebroke, en het eers gebabbel. Na so ’n rukkie kon ek uitmaak wat gebeur het,” sê Joel.

Volgens Sam was hy die dag besig in die tuin, en die res van die huisgesin besig om huis skoon te maak. Die windbuks was goed agter ’n kas weggesteek – waar niemand dit kon bykom nie. Hulle het dit gereeld gebruik om voëls te skiet vir vleis.

“Hy het presies geweet hoe om die windbuks te gebruik. Ek het doodseker gemaak toe hy dit kry dat hy alles van wapenveiligheid weet. Hy het sy familie ook geleer hoe om dit te gebruik, en hoe om veilig te wees daarmee,” sê Joel.

Dit was egter met die skoonmaak van die huis wat die einste kas waaragter die windbuks versteek is, geskuif is. Die 13-jarige seun het die windbuks daar ontdek.

“Shamiela het blykbaar afgebuk om haar baba aan te trek. Die skoot het afgegaan en haar volgens haar oom op die sagte plek tussen die nek en skouer getref. Hy het gesê dat die koeël ’n slagaar getref het. Dit is so ongelooflik, ’n absolute frats­ongeluk,” sê Joel, op soek na die regte woorde.

Joel sê Sam het met Shamiela gejaag om ’n ambulans wat op pad was te ontmoet, “maar toe hy by hulle uitkom, was dit reeds te laat.”

Volgens Joel is die seun betrokke ook ’n familielid van Shamiela, en is hy emosioneel geweldig deur die ongeluk geaffekteer. (Deur Stefan Skapie Goosen)