DIE verhoor van ’n pastoor van Oudtshoorn wat van verkragting en onsedelike aanranding asook die onwettige besit van pornografiese materiaal aangekla word, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof na die getuienis van ’n pornografie-deskundige tot volgende maand uitgestel.
Stephanus Olivier (59) pleit onskuldig op 37 klagtes – drie van verkragting, vier van seksuele aanranding en 30 vir die besit van films of publikasies wat uitbeeldings, beskrywings of tonele van kinderpornografie bevat.
Die beweerde verkragting en seksuele aanranding het 15 jaar gelede plaasgevind toe die klaers onderskeidelik 13 en 14 jaar oud was.
Albei klaers het reeds in die pastoor se saak getuig
Die pornografie-deskundige, Muridili Murendeni, het getuig oor foto’s en DVD’s van Olivier wat hy vir die staat ontleed het.
Volgens die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, is die beskuldigde se skoondogter en ’n kleinkind die laaste twee staatsgetuies wat met die voortsetting van die verhoor sal getuig.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak op versoek van Olivier se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, tot Vrydag 11 September 2020 uitgestel.
Boks het ook Olivier se borgtog van R10 000 verleng.
Hy het ook Olivier se borgvoorwaardes tot met sy volgende verskyning verleng. (Deur Garnett Wicomb)