Vrou in hegtenis toe Mustang teen muur en paal te pletter loop

’N 24-JARIGE vrou is Dinsdag (18 Augustus 2020) op Oudtshoorn in hegtenis geneem op ’n klag van dronkbestuur nadat sy in reënweer betrokke was in ’n botsing in Parkweg.

Die botsing het naby die draai van die Oudts­hoorn Skouterrein plaasgevind.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing omstreeks 17:05 plaasgevind, en het die bestuurder nie oor ’n rybewys beskik nie.

“Na bewering het die 24-jarige bestuurder vir ’n hond uitgeswaai, en toe teen ’n paal gebots. Die voertuig het teen ’n muur tot stilstand gekom,” het Michaels gesê.

Foto’s van die toneel wat die middag op WhatApp rondgestuur is, toon dat die Mustang oënskynlik van die pad af oor ’n oop erf gegly het voor­dat dit die paal en ’n muur getref het.

Die muur het verbrokkel van die slag van die impak.

Die Mustang is duidelik ook erg beskadig in die botsing.

Volgens Michaels was daar ’n passasier in die Mustang, maar het die persoon geen beserings opgedoen nie.

Sy sê dié persoon is ook die eienaar van die voer­tuig.
Die Hoorn het ook verneem dat die bestuurder haar arm in die botsing beseer het. (Deur Stefan Skapie Goosen)