Met beurtkrag wat op ’n stadium vir daaglikse ontwrigting van die skoolprogram verantwoordelik was, het Laerskool Wesbank besef dat die opwekking van eie krag noodsaaklik raak. Waldo Cloete, Wesbank se skoolhoof, sê daaglikse beurtkrag het waardevolle akademiese tyd laat verlore raak, veral omdat elke klas met ’n interaktiewe witbord toegerus is.
“Ons het reeds met die aanvang van beurtkrag begin navorsing doen, maar die koste vir alternatiewe krag was op daardie stadium te hoog.”
Die skool se beheerliggaam het egter met die instel van verhoogde kragtariewe weer somme gemaak en bevind dat hulle op die langtermyn geld sal spaar as hulle na sonkrag oorskakel. Volgens Cloete was besparing nie die enigste motivering nie. “Op hierdie wyse doen Wesbank ook hulle deel om ’n groter groen voetspoor op die omgewng te laat.”
Die installasie wat ’n week geduur het is op 30 September voltooi. Dit bestaan uit 60 sonpanele wat genoeg krag opwek om aan die totale kragbehoefte van die skool te voldoen.
Cloete sê alhoewel die skool nou slegs deur sonkrag aangedryf word, behou hulle steeds die Eskom-aansluiting aangesien dit dalk in die winter benodig sal word. (Hannes Visser)
Wesbank raak “groen” met algehele sonkrag
Bo: Die laaste van 60 sonpanele word by Laerskool Wesbank aangebring. Foto verskaf