

Die skielike hitte die afgelope aantal dae het Oudtshoorn se brandweerspan omtrent laat sweet.
Gedurende die naweek is die brandweer na Volmoed ontbied nadat ’n brand in ’n opslaanhuis langs die spoorlyn uitgebreek het. Die brand kon geblus word voordat dit na ander strukture versprei en niemand is in die brand beseer nie.
Maandag moes brandweerwaens inderhaas na ’n huis in St Saviourstraat jaag waar twee strukture in ligte laaie was. Volgens die eienaar van die huis het ’n skielike sterk wind ’n vuur wat in ’n drom gemaak was na die nabygeleë strukture versprei. Die stukture was nie bewoon nie, maar was as stoorplek vir huishoudelike items en meubels gebruik. Die brandweer kon daarin slaag om die vlamme te blus voordat die sterk wind dit na aangrensende erwe kon versprei.
Die brandweer was nog in St Saviourstraat besig toe hulle ’n noodoproep ontvang van voerbale wat op ’n plaas aan die brand geslaan het. Die weermag se brandweer is ook ingeroep en ten spyte van die sterk wind, kon die brand geblus word voordat dit kon versprei. Tussendeur moes die brandweer ook ’n veldbrand wat naby Palmoord ontstaan het, blus.
Inwoners word daarop gewys dat geen materiaal of tuinvullis in residensiële gebiede gebrand mag word nie. Geen beheerde brande mag ook vanaf 1 November tot aan die einde van Maart op plase gemaak word nie.
Die warm weer hou nie net gevaar van brande in nie, maar het ook tot gevolg dat slange toenemend begin rondbeweeg. Die brandweer het binne sewe dae agt slange verwyder wat naby mense was. Lees op https://www.diehoorn.com/nuus/wees-waaksaam-dis-nou-slangseisoen/ van die noue ontkoming wat ’n vrou met twee pofadders gehad het. (Hannes Visser)