Wees waaksaam, dis nou slangseisoen!

Bo: ’n Pofadder wat deur Thysse die afgelope tyd verwyder is. Onder: Die kat, Flossie, wat haar mensma twee maal in een aand gered het. Foto’s: verskaf

Met die somer wat aanbreek en die kwik wat die afgelope week diep in die dertigs gedraai het, begin slange aktief raak.

’n Inwoner van Rooiheuwel het hierdie week twee noue ontkomings gehad nadat haar kat binne een uur twee pofadders ontdek het. Die inwoner vertel dat haar kat, Flossie, Dinsdagaand saam met haar buitentoe is om braaihout te haal.

“Flossie was soos gewoonlik, al agter my aan en skuur en draai al om my voete. Skielik verander haar houding en sy staan versteen, spitsoortjies en kameelnekkie uitgerek en kyk stip na waar ek besig is om hout op te tel.” Dit is toe dat die vrou die pofadder sien wat opgekrul tussen die hout lê.

Later die aand het sy die honde uitgeneem om ’n laaste draai te loop en Flossie was weer saam.

Op die trappe het die kat egter weer versteen en na nog ’n pofadder gekyk wat opgekrul op die trappe lê.

Die vrou sê dat Flossie ’n medalje verdien omdat sy die gevaar betyds gesien het.
Dit is ook nou paarseisoen vir pofadders sê Mornay Thysse, slangkenner en lid van Oudtshoorn se reddingsdienste. Hy maan inwoners om uiters bedag op slange te wees.

Volgens hom sien hy beslis ’n groter toename in dié seilende gediertes. “Ek het in die huidige seisoen reeds meer slange gevang as wat ek normaalweg hierdie tyd van die jaar sou doen,” vertel hy.

Hy voeg by dat veral pofadders nou volop is aangesien dit hulle paartyd is. In September het hy reeds vyf slange gevang waarvan drie pofadders was. In die eerste sewe dae van Oktober het hy reeds agt slange gevang; vyf pofadders, twee Kaapse kobras en ’n Karoo-sandslang.

Thysse waarsku die publiek en veral mense wat in die veld stap, om hul oë oop te hou en eerder toe skoene as sandale of plakkies te dra. Hy raai mense ook aan om ’n stapstok saam te neem en die noodnommer, 044 203 7800, op hulle selfone te stoor.

Die Hoorn het self die afgelope twee weke vier slange gesien, waarvan twee pofadders en twee Kaapse kobras was. Twee was op die grondpad in die area van Rooiheuwel, en twee naby die Honde-eenheid.

Thysse gee die volgende wenke om jou, jou gesin en geliefde troeteldiere veilig te hou tydens die somermaande:

  • Hou erwe vry van enige rommel, veral tuinrommel wat rotte en ander diere lok en kos vir slange is.
  • Moet nooit probeer om self ’n slang te vang nie, maar hou dit eerder dop en kontak die munisipale noodnommer: 044 203 7800.
  • Bly ten minste vyf meter of verder weg van enige slang en neem kinders en diere onmiddelik weg uit die onmiddelike omgewing.
  • Kry onmiddellik mediese hulp by die naaste dokter of hospitaal indien die slang iemand pik.

“Probeer indien moontlik ’n foto van die slang neem,” sê Thysse.

Die beskrywing van die slang is in so ’n geval belangrik, omdat dit sal verseker dat dokters die korrekte teengif toedien.

Thysse het ook ’n Facebookblad, Klein Karoo Snakes, gestig waarop inligting aangaande slange in die area en slange wat gevang word, gereeld geplaas word. Sluit gerus by die blad aan.

Teengif raak skaars, maar is beskikbaar.

Nadia Ferreira, hoof-kommunikasiebeampte vir die Eden en Sentrale Karoo se gesondheidsdienste het op ’n navraag oor teengif aan Die Hoorn gesê:
“Ons erken die voortdurende openbare belang en media-narratief rondom die verskaffing van teengif, en ons moedig u aan om die NHLS (https://www.nhls.ac.za) te raadpleeg vir omvattende en bygewerkte inligting oor teengifprodukte en die huidige situasie. In die Wes-Kaap word teengif by spesifieke hospitale gestoor, wat strategies geposisioneer is om te verseker dat teengif vinnig en na enige plek gestuur kan word waar dit nodig mag wees. Hierdie stelsel maak voorsiening vir ’n vinnige reaksie in noodgevalle om te verseker dat pasiënte betyds die nodige behandeling ontvang.” (Angelique Erasmus)