Strate in die middedorp en ouer woonbuurte van Oudtshoorn is dekades oud en meer as 25 jaar laas herseël. Omdat die strate nie gereeld herseël was nie, is hulle besig om baie vining te verbrokkel. Sommige van die teeroppervlaktes het die einde van hulle leeftyd bereik.
Om die probleem nog groter te maak, is die grootste gedeelte van die dorp se waterpype wat onder die strate lê, asbespype wat meer as 50 jaar oud is, en stelselmatig besig is om te disintegreer. Om al die pype te vervang en al die strate wat aan die einde van hulle leeftyd is, te herseël gaan onbekostigbaar vir die begroting wees.
In reaksie op ’n navraag oor die toestand van die strate gee die munisipaliteit toe dat dringende ingryping nodig is, maar dat dit met beskikbare fondse gedoen moet word. Die departement van strate en stormwater sê dat fondse jaarliks in die begroting beskikbaar moet wees om die krisis van strate wat kritiek is volhoubaar te herstel.
Op hierdie stadium laat die begroting slegs ligte en medium-herstelwerk toe. ’n Groot deel van die uitgawes is vir herstelwerk wat deur gebarste pype veroorsaak is.
Ten spyte van die groot uitdagings is daar ’n skedule waarvolgens herstelwerk aangebring word.
Opsommend behels die skedule die volgende:
Herstelwerk aan strate waar pype gebars het:
Daar is tans vier spanne wat elke week van Maandag tot Donderdag herstelwerk in die volgende areas doen:
Span 1: Hv Victoria- en Buitekantstraat, hv Parkweg en Noordstraat, Russtraat, Adderleystraat tussen Kerk- en St Saviourstraat en St Saviourstraat tussen Baron van Reede- en Jubileestraat.
Span 2: Olienhoutstraat tussen Karee- en Olivestraat, Riemvasmaak Fase 1, Petuniaweg vanaf N12 tot Bella Rosasingel.
Span 3: Kortstraat, Sunsetlaan, Middelweg, Jan van Riebeeckweg tussen Voortrekkerweg en Albertstraat
Span 4: Maandae tot Woensdae
St Johnstraat tussen die Baron van Reedestraat en Parkweg, Hoogstraat tussen Voortrekkerweg en St Saviourstraat, Jan van Riebeeckweg tussen Kerkstraat en St Saviorstraat
Donderdae en Vrydae: De Rust en Dysselsdorp.
Herstel van slaggate: Tans word slaggatherstel op Vrydae en op sommige plekke op Donderdae in die volgende areas gedoen: Sakekern, Wyke 2,3,4 en 6, De Rust en Dysselsdorp.
Herstelwerk deur kontrakteurs:
Soos wat deur die begroting toegelaat word, sal kontrakteurs herstelwerk doen aan beskadigde dele van die volgende strate: Jan van Riebeeckweg tussen Plein- en Hofstraat, Cowleylaan, Adderleystraat tussen Voortrekkerweg en Elsstraat, Hoogstraat vanaf die aansluiting met Baron van Reedstraat tot by Van der Rietstraat, Noordstraat tussen Baron van Reede- en Reserwestraat, Victoriastraat tussen Baron van Reede- en Condorstraat.
Die munisipaliteit wys daarop dat die skedule ’n raamwerk is waarbinne beplanning gedoen word, maar dat dit ook afhanklik is van onvoorsiene omstandighede soos vars pypbreuke, nuwe slaggate en reënskade wat dringende herstelwerk mag verg. (Hannes Visser)
