ACT se dieredag weereens ’n groot sukses

Bo: Deelnemers spring weg tydens die Colour Run Saterdag. Foto’s: Angelique Erasmus Onder: ’n Spanjoelhond word gratis teen hondsdolheid ingeënt.

Sowat 380 diere is op Satedag 5 Oktober gratis teen hondsdolheid ingeënt tydens vanjaar se ACT (Animal Care Team) Oudtshoorn Animal Day.

’n Groot aantal stalletjies en die jaarlikse Colour Run het besoekers weer na die perseel van die staatsveearts in Van der Rietstraat gelok. ACT het ook verskeie kontantskenkings asook skenkings van troeteldierkos wat vir pryse gedurende die dag aangewend is ontvang.

Vanessa Engelbrecht van ACT het aan Die Hoorn vertel dat die dag weer baie suksesvol was. “Ek wil graag vir Oudtshoorn se besighede ’n groot dankie sê vir al hulle ondersteuning en ook vir die borge van al die pryse. Baie dankie ook aan EdenFM en Die Hoorn vir die gratis publisiteit.

Sonder al ons borge sal dit nie vir ons moontlik wees om so ’n groot en suksesvolle dag vir inwoners van die Klein Karoo aan te bied nie.” Sy bedank ook die wonderlike ACT-span, asook elke persoon wat hul tyd en dienste aanbied met die vooraf-reëlings en die dag se aktiwiteite.

Die jaarlikse Oudtshoorn Animal Day word gehou om sterilisasie en inenting van troeteldiere te beklemtoon. (Angelique Erasmus)