Die veelsydige vakman en kunstenaar, Anton Roetz, het waarskynlik min bekendstelling nodig. Sy kunswerke wat jaarliks in opdrag van ABSA as deel van die KKNK deur hom gemaak is, pryk in die dorp. As stokperdjie hou Anton hom besig met innoverende maniere om gebruiksartikels te maak. Daar is ’n aantal jare gelede reeds berig oor die hele reeks kitare wat Anton maak waarvan almal elektronies gebruik kan word.
Daar is kitare wat van ou motors se lugfilters gemaak is. Daar is kitare van ou emalje bedpanne, van koffertjies, van die leerhouer waarin die gestyfde kraag van ’n Britse offisier se uniform bewaar was. Een van sy gunsteling instrumente is ’n banjo waarvoor hy die blikkosbak van een van sy lieflinghonde gebruik het. Dit is veilig om te sê dat die enigste gekoopte onderdele van sy kitare waarskynlik die snare en die proppe is, waar klankversterkers ingeprop word – die res is uit gevonde mate-riaal gemaak. Een kitaar het selfs ’n steel wat gemaak is uit hout wat uit ’n treinwa kom wat deur Paul Kruger gebruik is.
Musikante het al van die kitare getoets en alhoewel Anton glad nie kan kitaar, of enige ander instrument bespeel nie, is sy kitare nootvas en reg vir gebruik. Sy mees onlangse reeks innoverende skeppings noem hy “No tooth” waar hy spot met mense se beheptheid met Bluetooth om hulle selfone optimaal te benut. Hy het allerhande hol voorwerpe wat tot ’n mate kegelvormig is, geneem en kunstig omskep met houers waarin ’n selfoon kan pas. Wanneer musiek dan deur die selfoon gespeel word, versterk die kegelvormige “No tooth” kunswerk die klank soos wat die geval was met die grammafone van donkiejare gelede wat gebruik is om die heel eerste musiekplate te speel.
Anton en Betsie besit Shadowlands gasteplaas en ontvang gereeld besoekers met jong kinders. “Hulle is mos heeldag op hulle selfone en dan vra ek of hulle Bluetooth gebruik. Almal sê natuurlik ja, maar dan vra ek of hulle al ooit van No Tooth gehoor het. Hulle is verstom as hulle sien hoe dit werk,” vertel hy.
Buiten kitare en klanversterkers en meubels en beeldhouwerke is Anton ook ’n uiters bekwame mesmaker. Met hulle onlangse besoek aan Nederland waar hy en Betsie vir drie maande op hulle boot, Die Johanna, gewoon en gereis het, het hy juis ’n stuk yster opgetel wat eersdaags in ’n mes verander word. Op ’n vraag of hy sy kitare en klankversterkers en messe verkoop, haal hy sy skouers op “Dis te moeilik, want elkeen van hulle het ’n storie en mens verkoop nie maklik sommer net jou stories nie.” (Hannes Visser)
Oudtshoorn se meester-innoveerder
Anton met ’n banjo wat hy uit ’n geliefde hond se kosbak en ander herwinde materiaal gemaak het. Hy het verskeie kitare in sy groot versameling. Foto: Hannes Visser