Twee werkswinkel waartydens boere gehelp word om saam met die natuur te boer, word op 8 Maart en 19 April deur die Cape Leopard Trust (CLT) in samewerking met die Herding Academy van Graaff-Reinet en CapeNature aangebied.
Die daglange werkswinkels (09:00 tot 16:00) word by Bella de Karoo tussen Oudtshoorn en Calitzdorp aangebied.
Koste beloop R200 per persoon per dag.
Die twee werkswinkels sluit by mekaar aan en het ten doel om uiteindelik boere te help om ingeligte besluite te neem oor hoe om met die natuur saam te werk.
Die Herding Academy bied die werksessie oor droogtebestuur aan, terwyl CLT en CapeNature die werksessie oor roofdierbestuur aanbied.
Droogtebestuur
Hierdie werkswinkel fokus op die beginsels van veldbestuur, wat droogtebestuur insluit.
Ekologiese beginsels en besluitneming met die oog op die geheelbeeld van die boerderystelsel word bespreek.
Eerstens word gekyk na holistiese besluitneming, wat dit beteken en waar die benadering ontstaan het.
Daarbenewens word vier sleutelinsigte verduidelik, naamlik holisme, die broosheidskaal, die interaksies tussen prooi en roofdier en die tyd wat verloop.
Daar word ook gekyk na ekostelsel-prosesse en na die konteks omdat elke plaas uniek is.
Ten slotte word die gereedskap wat die boer kan gebruik om sinvolle bestuursbesluite te neem, bespreek.
Roofdierbestuur
Die tweede werkswinkel handel oor roofdierbestuur.
Kenners sal die sosiale en gebiedsgedrag, habitat- en prooivoorkeure, jagmetodes en teelgedrag van luiperds, jakkalse en rooikatte bespreek.
Daar sal ook gekyk word na metodes van roofdierebestuur, want daar bestaan ’n magdom metodes wat nie oral ewe suksesvol gebruik word nie.
Die kenners kan deur die karkas van die prooidier te ondersoek vir jou sê of dit ’n luiperd-, rooikat- of jakkalsvangs is.
Die roofdiere het verskillende jag- en doodbytmetodes en hulle almal vreet op verskillende maniere aan ‘n karkas.
Bespreek jou plek by capeleopard.org.za/shop/events.
Lees meer oor Cape Leopard Trust se vorige werkswinkelreeks by bit.ly/CLTFwN2022
Kontakbesonderhede: Kontak Chavoux Luyt by communityoutreach@capeleopard.org.za of stuur ’n WhatsApp na 082 791 1384 (Deur Tisha Steyn)
Werkswinkels: Leer hoe en boer saam met die natuur
Is 'n jakkals, rooikat of luiperd verantwoordelik vir die lam se dood? Kom leer meer oor probleemveroorsakende roofdiere op 19April. Foto: Joseph Steyn