DIE saak teen ’n man van Ladismith wat van huisbraak en menseroof aangekla word en die hof versoek het om ’n ander staatsaanklaer vir sy saak aan te stel, is in die Oudtshoon Streekhof vir verhoor tot 3 Maart uitgestel nadat die hof sy versoek geweier het.
Kobus Coetzee het die hof meegedeel dat die betrokke aanklaer hom in 2020 in ’n saak verdedig het toe die aanklaer nog as prokureur gepraktiseer het.
Hy is nog geld aan haar verskuldig en is van mening dat sy nie objektief in die huidige saak sal optree nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het dit aan Coetzee gestel dat die vorige saak in 2020 plaasgevind het en dat die aanklaer reeds van 2021 af nie meer as prokureur praktiseer nie.
Die saak waarvoor hy tans in die hof is, gaan oor beweerde misdrywe wat hy in 2021 gepleeg het en die aanklaer het geen insae daarin nie.
Moni het Coetzee aangepreek oor sy optrede in die hof wat voorkom asof hy nie ander mense respekteer nie. “Ons moet almal mekaar respekteer in die hof en stilbly wanneer ’n ander persoon praat,” het Moni ter afsluiting gesê. (Deur Garnett Wicomb)