DIE werksverhouding tussen die voormalige burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Colan Sylvester, en die munisipale bestuurder, Allen Paulse, word in die Webber Wentzel-verslag as toksies, vol wantroue en onherstelbaar bestempel.
Die verslag wys daarop dat die verskillende, maar tog aanvullende rolle van ’n burgemeester en munisipale bestuurder duidelik in wetgewing afgebaken word, met die hoofdoel om tot voordeel te wees van die gemeenskap wat deur die munisipaliteit bedien word.
Die vertroulike verslag, wat twee weke gelede op sosiale media gelek is, is in Januarie vanjaar deur die raad aangevra.
’n Navraag van Die Hoorn aan die munisipaliteit of daar deur hulle toestemming gegee is dat die verslag of dele daarvan na buite bekend gemaak mag word, was teen druktyd nog nie beantwoord nie.
Die Hoorn het ook die vraag aan die regsfirma Webber Wentzel gerig wat Die Hoorn na die waarnemende munisipale bestuurder verwys het.
Vergadering uitgestel nadat ontevrede inwoners Covid-19-protokol ignoreer
’n Raadsvergadering waartydens die verslag verlede Vrydag bespreek sou word, is deur die speaker van die Oudtshoorn-raad, Julia le Roux, uitgestel nadat ’n groep mense die munisipale gebou binnegestorm het sonder om die nodige Covid-19-protokol te volg.
Videos wat op sosiale media versprei is van skreeuende, vloekende mense wat die munisipaliteit binnegaan, bevestig dit.
“Dit was ’n herhaling van die vorige dag toe dieselfde mense ’n bestuursvergadering in die raadsaal binnegedring het en nie wou loop toe hulle versoek is nie,” sê Le Roux.
“Ek het klagtes ontvang van raadslede wat bedreig gevoel het en is ingelig dat amptenare aangerand is. Die feit dat die meeste raadslede in die hoë risiko-kategorie vir Covid-19 val, vererger die erns van hierdie optrede.
“Dit is my verantwoordelikheid om die veiligheid van raadslede te verseker.
“Die risiko’s wat die gebeure gister en vroeër vandag inhou, laat my geen ander keuse as om die raadsvergadering uit te stel totdat ons die nodige veiligheidsprotokol ingestel het nie.”
Le Roux sê sy het besef dat die munisipaliteit se veiligheidsdienste nie toegerus is om groepe betogers te beheer wat die munisipale binnegaan nie, en het die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, gevra om aandag te skenk aan die veiligheidsprotokol om raadslede te beskerm.
“Ek vra dat alle inwoners van Oudtshoorn die gesondheid en veiligheid van ander eerbiedig deur die regte Covid-19-veiligheidsmaatreëls te volg.”
Politieke spanning duur voort
Dit was sedert verlede week duidelik dat politieke spanning steeds hoog loop ná die bedanking van Sylvester, en die uitlek van die verslag wat die raad aangevra het.
Vrydag het ’n aantal inwoners vreedsaam betoog met plakkate buite die munisipale gebou waar die raadsvergadering sou plaasvind.
Dié vergadering sal nou na wat verneem word vandag (Donderdag 25 Junie) plaasvind. (Deur Liesel le Roux)
Werksverhouding was toksies en vol wantroue, sê verslag
