Werk skop af by nuwe maar kleiner sentrum vir Bridgton

'n Skermgreep van Google Maps van die oop terrein (in die middel) waar die eerste fase van die Bridgton Sentrum gaan verrys.

’N NUWE maar kleiner winkelsentrum as wat ’n paar jaar gelede beoog is, gaan binnekort langs die Bridgton Kliniek op Oudtshoorn begin verrys. Die sentrum sal op die oop stuk grond tussen Springbok- en Koedoe­weg geleë wees.

Volgens Rutger Boshoff van So­merset-Wes, nuwe ontwikkelaar én bouer van die sentrum, word beoog dat ’n Shoprite, nog vier winkels en drie kitsbanke hul deure teen die einde van vanjaar in dié sentrum sal open.

Die eerste fase van die sentrum sal sowat 2 000 vierkante meter beslaan.

Boshoff het die maatskappy oorgeneem wat aanvanklik ’n veel groter sentrum bekend as die Bridgton Mall beoog het wat in 2019 sou open.

Volgens hom het die ekonomiese klimaat baie verander en was dit nodig om die planne vir fase een van die sentrum aan te pas.

Hy is met die beste bedoelings op Oudtshoorn en wil graag ’n blywen­de bydrae hier lewer, sê hy.
“Net ek en my voorman het van Somerset-Wes af met ’n bakkie op Oudtshoorn aangekom met die doel om plaaslike ambagsmanne te gebruik om die sentrum te bou. Ons wil graag so werk skep.”

Hy sê die nuwe winkels sal ook heelwat werk skep én voete lok wat ook ander winkels in die omgewing kan bevoordeel. Net Shoprite alleen behoort naby aan 50 werksgeleenthede te skep.

Tans is daar twee mikpunte in sy visier.

Die een is om krieketliefhebbers te help deur ’n terrein naby Aurial Kollege voor te berei as nuwe tuiste vir die gewilde Vlakkie-krieketwedstryde. Dié krieketwedstryde het voorheen op die terrein waar die winkelsentrum gebou word, plaasgevind.

Die ander is om die voorbereiding van die bouterrein af te handel – uitdagend as gevolg van die dorbank op die terrein daar – sodat met die eerste uitgrawings begin kan word. (Deur Liesel le Roux)