Steeds gemotiveerd, steeds gereed vir enige uitdaging!

Chad Louw. Foto: Stefan Skapie Goosen

OP 25-jarige ouderdom is Chad Louw, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, steeds die jongste politikus in die land om tot eerste burger van ’n dorp verkies te word; en na sewe maande in dié amp ook steeds die gemotiveerde individu met wie Die Hoorn in November verlede jaar gesels het; gereed vir énige uitdaging wat oor sy pad mag kom.

Met talle veranderings en gepoogde veranderings in leiersposisies soos die van onderburgemeester, speaker en munisipale bestuurder oor die afgelope maande, is Louw steeds stewig in die saal.

As hy terugkyk oor die afgelope maande sedert hy tot burgemeester verkies is, is alles steeds oorweldigend in die sin daarvan dat hy self nog in ’n leerproses is, sê Louw. “Soms maak mens foute hier en daar, en jy leer uit hierdie foute. Daar is ook meer take wat na jou toe kom waar jy ook moet leer hoe sekere goed werk. Wat vir my goed is, is dat ek myself probeer verbeter en opvoed; ek is tans besig met ’n BA-graad in regte met die oog daarop om politiek en regeringsbestuur beter te verstaan,” vertel hy met ywer.

Louw sê hy probeer deurgaans op hoogte bly van allerlei kwessies en prosesse en hoe dit werk – deur te lees en homself op hoogte te bring van wat in die munisipale strukturewet staan.

“Ek moet verstaan hoe alles regtig werk, hoe die stelsel werk.”

Die moeilikste deel van sy werk, bieg hy, is die politieke aspek daarvan.

“Met die regeringsaspek gaan dit baie goed, as ek so kan sê, maar dis die politiek waar dit moeilik raak. Die uitdagings wat reeds binne die munisipaliteit bestaan het, is natuurlik ook daar. Dit was nie ’n goed geoliede masjien toe ek aan bewind gekom het nie.”

Hy vergelyk die proses om die munisipaliteit se probleme aan te spreek met ’n motor wat by ’n werktuigkundige ingegee word. “Die motor is nog steeds in die fase waar ons dit moet regmaak, die mechanics is hard besig om die spreekwoordelike olie te vervang, om te kyk of die filters reg is, om te kyk of die remme weer werk en om dit te vervang as dit nie werk nie. So daar is baie wat ons moet doen en moet regkry om te verseker ons beweeg in die regte rigting. Jy kan nie halfpad deur die proses die kar op die pad stuur nie – ons wil graag hierdie motor weer padwaardig maak.”

Om dié “motor” weer “padwaardig” te maak, sê hy, verg talle prosesse en tydlyne, wat beteken sekere dinge kan nie oornag gebeur nie.

“Daar is baie dinge in die pyplyn wat ons graag wil doen, maar omdat prosesse so lank kan vat, bemoeilik dit die saak. My honderdagplan was een voorbeeld hiervan. Ek het genoem – en dit wys dat ons mense meer moet lees – dat baie van my mikpunte of doelwitte nie binne daardie eerste hon­derd dae sou gebeur nie as gevolg van munisipale prosesse. Maar mense bly kla. Ek het onder meer gesê die Bridgton-inkopiesentrum se implementering sal in Mei/Junie kom, en dit is nou in daardie proses.”

Louw sê daar is baie sulke voorbeelde wat reg gekommunikeer moet word na buite, en dat hy mense wil aanmoedig om meer te lees en hulleself so ingelig te hou oor wat in die dorp aangaan.

Negatiewe kommentaar, sê hy, volg dikwels wanneer mense hulleself nie verwittig het van inligting nie.

Hy sê hy probeer hom nie aan negatiwiteit steur nie, maar dat dit mens soms onderkry.

“Dan is dit vir my belangrik om te dink of ons mense verstaan, of nie. Het hulle die nodige inlig­ting, of nie? En wanneer ek besef mense praat uit onkunde, dan weet ek ek hoef nie in ’n hoekie te gaan sit en huil nie.”

As negatiwiteit hom sou onderkry, sê hy, sou hy nie sy werk kon doen nie. “Ek het hanteringsmeganismes en onder­steuning in plek vir wan­neer ek dit benodig, al byt jou eie honde jou soms die seerste, soos hulle sê.”

Hy beskou die suk­ses­­volle implementering van die National Rural Youth Service Corps-program (Narysec) en die Bridgton-inkopiesentrum as van sy grootste suksesse oor die afgelope sewe maande. Die Narysec-program help jeugdiges om beter voorbereid te wees indien hulle ’n wetstoepas­sings- of landbourigting wil volg.

Ook die aanbieding van die KKNK én die Sportfees ná twee jaar se afwesigheid staan vir hom uit.

“Hierdie is alles situasies waar die munisipaliteit en gemeenskap kon saamwerk tot voordeel van die dorp.”

Wat van struikelblokke? Louw sê daar was tot dusver meer as genoeg hiervan. Buiten negatiewe kommentaar van inwoners, is een groot struikelblok die feit dat inwoners nie opdaag vir openbare deelnamesessies of inligtingsessies nie. “Die ge­meenskap is nie daar wanneer ons inligting oordra nie, en dit maak dit moeilik om verhoudings met hulle te bou. Kommunikasie tussen ons en die ge­meenskap is van kardinale belang, en ons probeer op sosiale media en met terugvoersessies inligting deurgee.”

Politiekery binne die munisipaliteit is ook ’n struikelblok. “Ons wil byvoorbeeld iets in die raad goedkeur, maar dan wil mense net politiek speel en sien nie die erns in die saak raak nie. Dit kan nadelige gevolge vir die munisipaliteit inhou as mense politiek speel wanneer hulle nie moet nie.”

Daar is ook uitdagings ten opsigte van die administratiewe kant van die munisipaliteit, sê Louw.

“Soms neem dinge bietjie te lank, of is daar vertragings in prosesse, maar hou in gedagte dat die voertuig nog by die werktuigkundige is.”

Daar sal deurgaans sulke struikelblokke wees, voeg hy by. Die feit dat die rassekaart ook dikwels deur inwoners uit alle gebiede gebruik word, maak nie sy werk makliker nie, sê hy.

En die toekoms? Die volgende ses maande van sy termyn gaan nes die vorige ses maande opwindend wees, sê Louw. “Daar is baie wat moet gebeur en realiseer. Administratiewe prosesse veroorsaak natuurlik dat goed wat reeds in die eerste ses maande moes plaasvind, nou eers geïmplimenteer word. Ek sien daarna uit om die toegang tot verskeie dienste vir ons inwoners te vergemaklik. ’n Sentrale toegangspunt vir munisipale dienste by Aurial Kollege, bemagtiging van ons mense, en toegang tot ’n inkopiesentrum nader aan gemeenskappe waar sulke sentrums of winkels nie bestaan nie, is enkele van die goed waarna inwoners kan uitsien.”

Hy sê die munisipaliteit wil ook dienslewe­ring en die aanmelding van probleme daarmee vir inwoners verbeter en vergemaklik. “Dit is belangrik dat die munisipaliteit vinniger moet kan optree en dat daar aanspreeklikheid is wanneer inwoners probleme by ons aanmeld, veral wanneer dit by diens­lewering kom.” (Deur Stefan Skapie Goosen)