
Oudtshoorniete het hierdie week ’n groot Kersgeskenk gekry met die Rugby Wêreldbeker, die Webb Ellis Trofee, wat op Oudtshoorn was.
Naas Kaapstad was Oudtshoorn die enigste dorp in die Wes-Kaap waar die trofee uitgestal is, en lede van die publiek kans kon kry om ’n foto saam met die gesogte beker te neem. Inwoners was reeds voor 11:00 die oggend by die De Jagers Sportkompleks, en kon tot 14:00 die geleentheid kry vir ’n foto.
Oud en jonk het die rye aangedurf, en die opwinding was groot. Sommige kon hulself nie help om die beker omhoog te hou en selfs ’n soen te gee nie.
Hierdie was beslis ’n wonderlike voorreg en ’n kans wat nie aldag verbykom nie. Na afloop van die fotosessie is die beker veilig in sy tas teruggesit en na Kaapstad geneem. Foto’s Die Hoorn en Verskaf

