’n Advokaat van Dysselsdorp is in die Oudtshoorn distrikshof op twee aanklagte van crimen injuria en twee van aanranding skuldig bevind en opgeskorte vonnisse opgelê.
Die 43 jarige Shawn Ferreira het tereg gestaan op altesaam agt klagtes van aanranding, crimen injuria en die verontagsaming van beskermingsbevele maar onskuldig bevind op laasgenoemde klagtes. Die aanklagte van crimen injuria en aanranding het gegaan oor voorvalle in 2019 toe Ferreira twee polisiebeamptes te na gekom en die ma van sy kind aangerand het.
Die staatsaanklaer, Brynn Petersen, het die hof versoek om hom op al agt klagtes skuldig te bevind omdat sy getuienis nie sin maak nie.
Ferreira, wat sy eie verdediging waargeneem het, het egter aangevoer dat die klaer verskillende weergawes aan die hof gegee, en onder kruisverhoor, sy getuienis gestaaf het.
Landdros Ryan van Harte het Ferreira op die twee klagtes van crimen injuria gevonnis tot R6 000 of ses maande gevangenisstraf, en op die twee klagtes van aanranding tot ses maande gevangenisstraf, wat in geheel vir vier jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer gedurende die tyd van opskorting aan soortgelyke misdade skuldig bevind word nie. (Deur Garnett Wicomb)