Die vermeende moordenaar van ’n 60-jarige man van Bloupunt, Dysselsdorp, het Vrydag sy eerste verskyning in die streekhof gemaak waarna die saak vir instruksies aan sy regshulpprokureur tot 30 Januarie 2024 jaar uitgestel is.
Die 47-jarige Fransisco (Frank) Erasmus van George staan tereg op ’n klagte van moord op Abraham Herandien wie se liggaam met verskeie steekwonde op Dinsdag 21 Maart deur verkeersbeamptes in Erasmus se motor gevind is.
Erasmus plaas die blaam vir Herandien se dood op verkeersbeamptes wat hom die betrokke dag op die De Rust-pad gestop en verhoed het dat hy Herandien by ’n hospitaal kry.
Hy ontken dat die mes wat in sy motor gevind is aan hom behoort.
Erasmus het met sy borgtogaansoek gesê dat die staat nie ’n saak teen hom het nie en hy nie ’n begunstigde is in polisse van die oorledene nie. (Deur Garnett Wicomb)