Soos ons die begin van die kersseisoen binnegaan, wil ons almal veilig hou. Soos u weet is daar altyd tragiese gevalle wat waterverwant is. Byvoorbeeld: Naby verdrinking en verdrinking asook nekbeserings tydens vlakwaterduik.
Ons uitkyk is eerder daarop gefokus om hierdie voorvalle te voorkom.
Scenario: Boeta 5 jaar oud wil graag swem terwyl ouers laaste paar dae werk voor Kersfees. Ouma staan in en kyk na boeta. Ouma dink dis goed om gou ’n koeldrank te gaan kry. Boeta kan mos beter swem as Ouma, dink sy.
By terugkeer is Boeta aan die onderkant van die swembad en dit neem langer as normaal vir hom om terug te keer na die oppervlak. En hou in gedagte Ouma is nie aangetrek net om in die water te spring nie, en is ook nie so goed in swem soos 30 jaar gelede nie.
Hartseer is op pad en niemand beplan om Kersfees so te hou nie. En dan praat ons nie van ewige blaam nie.
Wenke vir voorkoming:
Toesighouers moet nooit die kleuter alleen los nie. Om op die selfoon besig te wees terwyl die kleuter in die water is, is nie behoorlike toesig nie.
Toesighouers moet bereid wees om te reageer op enigiets wat binne sekondes kan gebeur.
Kry ’n ekstra swemnoedel met ’n lekker lang toutjie en sit dit onder ouma se stoel vir noodgevalle. Dit is nie die speelnoedel nie dis die noodnoedel.
Hou altyd noodnommers beskikbaar. Om noodnommers te google tydens ’n noodgeval is sekerlik tydrowend. Tyd kan ’n rol speel in lewe en dood.
Die toesighouer moet bereid wees om sonder aarseling in die water te kan spring en ook die vermoë hê om self waterveilig te wees. Onthou jou eie veiligheid is belangrik.
Sit maar die horlosie en selfoon en dorpskoene eenkant, want daar is nie tyd om daarvan ontslae te raak tydens nood nie.
Wenke tydens ’n noodgeval. Kry die persoon so gou moontlik uit die water. Bepaal of die persoon ’n nekbesering kon opgedoen het deur te duik of in ’n swembad te spring.
As ’n nekbesering vermoed word, immobiliseer die persoon dan waar moontlik. (Hou die kop, nek en ruggraat so reguit as moontlik). Kry die lugweg oop deur die kop gedeeltelik agtertoe te kantel indien nie nekbeserings vermoed nie.
As ’n persoon nie beweeg en nie asemhaal nie, begin dadelik met 30 borskompressies en 2 asemhalings. Moenie tyd verkwis nie.
Moenie probeer om die water uit die maag te kry nie. Fokus eerder daarop om behoorlike KPR te doen.
Kontak onmiddellik 112 (Selfoon) vir die nooddienste. Maak seker jy gee al die inligting wat hulle benodig, soos die korrekte adres en jou kontaknommer.
As die persoon braak, draai hom op sy sy en hou die lugweg oop en skoon.
As daar geen tekens van lewe is nie, gaan voort met KPR en moenie behandeling staak totdat noodpersoneel oorneem nie.
As KPR vinnig genoeg gedoen word, is die kanse op herstel baie goed.
Alle persone wat in ’n situasie van verdrinking was, moet so gou moontlik na ’n hospitaal of dokter geneem word om behoorlike behandeling en nasorg te verseker om sêkondere verdrinking te voorkom.
Geniet die feestyd en onthou voorkoming is die beste behandeling.
Vir gratis advies en Noodhulpkursusse is u welkom om Klein Karoo Event Medics te kontak by 082 444 2226.


