Watertenks by lughawe uitgetoets

Bo: Die Single Engin Air Tanker, Air Tractor 802 in aksie tydens die oefensessie, met Rinus van Raaij in beheer van die stokke. Foto: Lindi Brill Onder: Die “Bomber loaders”, soos die span genoem word hervul die vliegtuig met 3 000 l water in slegs drie minute. Foto: Lindi Brill

Oudtshoorn Brandweer, in samewerking met die Tuinroete Brandweer en Working on Fire, het Vrydag, 2 Februarie, ’n oefenlopie uitgevoer om die nuwe watertenks wat by die Oudtshoorn Lughawe geïnstalleer is, uit te toets.

Die drie watertenks, wat elk 10 000 l water kan stoor, sal die hervul van die vliegtuig wat deur Working on Fire gebruik word om brande te help bestry, baie meer doeltreffend en vinniger maak.

Twee van die watertenks is deur die Oudtshoorn Brandweer geskenk, terwyl die derde een deur die Tuinroete Brandweer en Munisipaliteit geskenk is.

Die vliegtuig wat gebruik word is ’n Single Engin Air Tanker, Air Tractor 802 en word gevlieg deur Rinus van Raaij.

Hierdie vliegtuig behoort aan Kishugu Aviation, wat saam met Working on Fire werk om brande uit die lug te help beveg.

Volgens Frank Smook van Working on Fire, is hierdie watertenks ’n baie groot voordeel vir die bestryding van brande.

“Dit neem die vliegtuig 10 minute om oor die berg vanaf George te vlieg. Hy styg op met ’n vol tenk water en kan dadelik sy eerste vrag gaan gooi”, het Smook aan Die Hoorn vertel.

Sodra die eerste vrag water uitgegooi is, kan die vlieënier dadelik weer by die lughawe gaan hervul. Dit vat slegs twee en ’n half tot drie minute om die tenk van 3 000 l te hervul.

“Dit is egter nie die vliegtuig of helikopter se doel om die brand te blus nie, maar dit help egter om die vuur onder beheer en koeler te kry sodat die grondspanne kan inbeweeg om die brand verder te bestry”, het Smook benadruk.

In die toekoms gaan Working on Fire ’n groot rooi krat met ’n kombinasie slot by die tenks installeer met al die nodige toerusting in om die vliegtuig te hervul, sodat die “Bomber loaders”, soos die span genoem word wat die pomp van die water beheer, slegs deur ’n tweede vliegtuig afgelaai kan word en hulle dan dadelik gereed is om die vliegtuig te hervul. (Deur Lindi Brill)