Klein Karoo Saadproduksie se ISTA (International Seed Testing Association) geakkrediteerde laboratorium, Seed Quality Services, op Oudtshoorn, het vanaf 23 – 26 Januarie 2024, besoekers van regoor die wêreld, op ’n unieke Klein Karoo-wyse verwelkom.
Die besoekers was van verskeie buurlande insluitend Malawi, Rwanda, Tanzanië en Zambië, maar ook uit lande in Europa soos Denemarke en Frankryk en het selfs twee besoekers ingesluit vanaf Nieu-Seeland.
Die werkswinkel het verskeie onderwerpe ingesluit wat verband hou met die gevorderde standaarde van saad kwaliteitskontrole, waaraan Oudtshoorn se laboratorium voldoen, en kon op praktiese wyse aan lede van ander laboratoriums gedemonstreer word.
Dit is ook in samewerking met SANSOR (South African National Seed Organisation) aangebied oor die vier-dag-tydperk.
Verskeie demonstrasies oor tegniese en sistemiese onderwerpe is verduidelik en gedemonstreer.
Vyftien modules is tydens die werkswinkel behandel, met Klein Karoo Saadproduksie se laboratorium wat weens die hoë standaard wat hier gehandhaaf word, gebruik is om die werkswinkel aan te bied.
Daar is egter ook tyd ingeruim om die Kango Grotte te besoek, en aan besoekers die unieke Klein Karoo te wys.
Die formele kongresdinee was by Buffelsdrift, buite Oudtshoorn, waar die besoekers wild kon besigtig tydens die ete.
Klein Karoo Saadproduksie se Laboratorium is slegs een van ses laboratoriums in Suid-Afrika wat lede is van ISTA, en een van vier wat ISTA- geakkrediteer is.
Claudia Falch, bestuurder van Seed Quality Services het aan Die Hoorn gesê dat dit ’n besondere eer was wat hul laboratorium te beurt geval het.
“Ons het die eerste werkswinkel van die omvang in Suid-Afrika aangebied, en dit was ’n voorreg om skouers te skuur met lede van laboratoriums wêreldwyd en kennis uit te ruil op die gebied van saadtoetsing.”
Hul sien daarna uit om nog baie met laboratoriums in Suid-Afrika sowel as van regoor die wêreld saam te werk, sluit sy af. (Deur Angelique Erasmus)
Laboratorium verwelkom internasionale gaste vir werkswinkel
