Waterkrisis dreig

VLAK 5-WATERBEPERKINGS is Dinsdag met onmiddellike effek in die Groter Oudtshoorn ingestel nadat die Raubenheimerdam, die hoofwaterbron in die Groter Oudtshoorn, se vlak tot 37% gedaal het. Dit beteken die dorp het vir sowat 200 dae nog water.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het ’n dringende beroep op alle inwoners gedoen om water uiters spaarsaam te gebruik.

“Sedert einde 2020 was daar geen noemenswaardige reën in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam nie. Die damvlak het gevolglik konstant afgeneem.

“Indien die opvangsgebied nie binnekort voldoende reën kry nie, staar ons ’n ernstige waterkrisis in die gesig,” sê hy.
Oortredings van die beperkings is strafbaar met ’n boete van R1 000. Oortredings van die beperkings kan anoniem aangemeld word by tel 044 203 3090/3086 (tussen 07:30 en 16:00) en by 044 203 7800 (na-ure).

Macpherson het diegene bedank wat saamwerk om hul gemiddelde watergebruik drasties te verlaag. “Ek hoop dat dit ’n voorbeeld sal stel vir ander om die welstand van die Groter Oudtshoorn altyd eerste te stel.”

Onder die beperkings op Vlak 5 val die volgende:
• Huishoudings word aangemoedig om nie meer as 100 l per persoon per dag te gebruik nie, en mag nie meer as 12 kl per maand gebruik nie.

• Besproeiing van tuine met munisipale drinkwater is verbode.

• Voertuie mag net met water uit ’n emmer gewas word.

Be the first to comment on "Waterkrisis dreig"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*