Drie jaar tronkstraf vir roof by dobbelpoel

’N OUDTSHOORNIET wat iemand wat aan hom bekend is met ’n mes gedreig en van R530 beroof het, is in die Oudtshoorn Streekhof drie jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is. Die roof het plaasgevind terwyl mense gedobbel het.

Faizel Booysen, by almal bekend as Kabaal, het onskuldig gepleit op die klagte dat hy die aand van 30 Mei 2020 vir Alfred Claassen beroof het. Hulle bly in dieselfde straat.

Volgens Booysen het hy gesien hoedat ’n groep mans en ’n vrou vir Claassen gryp, en een van hulle die geld uit sy sak haal. Later het hy getuig dat Claassen se vriendin, Esteline Bezuidenhoudt, die geld uit sy sak gehaal het, en onder kruisverhoor dat hy nie weet wie Claassen beroof het nie.

Bezuidenhout, ook be­kend as Pienkie, het egter getuig dat sy ge­sien het hoedat Booysen die geld uit Claassen se sak gehaal het, maar nie gesien het dat hy ’n mes in sy hand gehad het nie.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Booysen se getuienis te verwerp omdat hy drie weergawes van gebeure gegee het. “Die klaer het nie sy geld teruggekry nie en Booysen toon geen berou nie.”

Streeklanddros Ntsoki Moni het vir vonnis in ag geneem dat Booysen reeds vir langer as ’n jaar in aanhou­ding is, die klaer nie enige beserings opgedoen het nie en hy ook ’n eerste oortreder is.

“Die klaer en sy vriendin sou dink dat hulle deur die beskuldigde beskerm sou word aangesien hulle mekaar goed ken,” het Moni bygevoeg. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Drie jaar tronkstraf vir roof by dobbelpoel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*