‘Ons is in die knyp en moet voorsorg tref’

Tydens ’n ‘groen droogte’ soos tans in die Klein Karoo is die veld in die winter groen vanweë ligte reën wat val. Die reën is egter nie genoeg om strome en riviere te laat vloei nie met die gevolg dat die damme nie genoeg water kry nie en die ondergrondse watertafel so daal dat boorgate nie meer genoegsaam water lewer nie.

DIE droogte in dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap asook dele van ander provinsies is Dinsdag deur dr Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, tot ’n nasionale ramp verklaar. Dit sluit die Groter Oudtshoorn en die aanliggende gebiede van Kannaland en George in.

Burgemeesters van die Groter Oudtshoorn, George en die Tuinroete Distriksmunisipaliteit (onderskeidelik Chris Macpherson, Leon van Wyk en Memory Booysen) het die afgelope ruk hard gewerk om die streek tot ’n nasionale droogterampgebied te laat verklaar.

Volgens Macpherson is die situasie in die gebied baie ernstig. “Van die gebiede het tien jaar laas enige noemenswaardige reën gehad. Ander gebiede gaan hul sewende jaar van droogte binne. Waar ander dele van die Wes-Kaap byna wegspoel, kry ons byna geen harde reën nie.”

Die burgemeesters het op 19 Julie ’n skrywe aan die nasionale en provinsiale rampbestuursentrums gerig waarin hulle hul beroep op Artikel 56 (2) (b) van die Rampbestuurwet en vra dat die droogte so gou moontlik as deel van ’n nasionale ramp verklaar word sodat die nasionale en provinsiale departemente hul begrotings hiervoor kan herprioritiseer om die gebied te help.

Die burgemeesters skryf voorts: “Ons huidige situasie is van kritieke belang, nie net vir die boeregemeenskap nie, maar ook vir die voortbestaan van inwoners in dié gebiede. Die voortbestaan ​​van ons dorpe is afhanklik van die voortbestaan ​​van ons boeregemeenskap en drastiese ingryping is nodig om volhoubaarheid te verseker. Die rampspoedige uitwerking van die droogte op ons ekonomie word gereeld in die media uitgelig en werkverliese met toenemende onwettige plakkery het ’n daaglikse verskynsel geword.”

Macpherson sê dit sal onder meer beteken ’n assesering moet gedoen word om die omvang van die droogte en die nood te bepaal. Ons ondersoek alle moontlikhede waarvoor ons aansoek kan doen en waar ons hulp kan vra, asook alle moontlikhede waar ons as munisipaliteit kan hulp verleen.”

Groter Oudtshoorn se toekoms hang van watersekuriteit af
Volgens Macpherson speel watersekuriteit ’n sleutelrol om groei in die Groter Oudtshoorn te verseker – vir die landbou, maar ook vir enige ander ontwikkeling en bedrywe wat nie sonder water kan plaasvind nie.

“Vir boere om te kan voortgaan, moet daar gekyk word hoe van die plase herstel kan word ná die vernietiging van die droogte. Daarom is daar Vrydag finale dokumentasie deurgestuur na die onderskeie staatsdepartemente met ’n versoek dat omgewingsimpakstudies vinnig gedoen kan word in sekere gebiede.

“As ’n boer wil herbeplan oor die aanwending van ’n stuk grond, moet ’n omgewingsimpakstudie gedoen word wat sowat twee jaar sal duur. Daar kan nie tans so lank gewag word nie, want oor twee jaar gaan dit te laat wees.”

Daar word volgens Macpherson tans bepaal waar en hoe vinnig boorgate op plekke gesink kan word. Daar is reeds goeie water gekry by ’n boorgat wat naby die Calitzdorp Spa gesink is en wat nou in die stelsel van die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) ingevoer word.

Daar word ook gewerk aan ’n voorlegging oor alternatiewe bogrondse waterbronne asook die vestiging van nuwe damme, onder meer ’n dam by De Kombuys (langs die Kango Grotte-pad), in die Olifantsrivier naby die Calitzdorp Spa asook die verhoging van ander damwalle.

“Ons is besig om ’n waterplan vir die hele Groter Oudtshoorn op te trek. Daar word ook aandag geskenk aan die uitwis van indringerplante in die Grobbelaarsrivier van bo in die berg tot op Oudtshoorn omdat dit watervloei beperk, met nasionale en provinsiale rolspelers, die distriksmunisipaliteit asook CapeNature wat hierby betrokke is en werk om fondse daarvoor op nasionale en provinsiale vlak te bekom.

“Ons hoop al hierdie inisiatiewe sal verligting bring vir die landbou – as dit goed gaan met die landbou gaan dit goed met die dorp.”

Raubenheimerdam daal steeds te midde van ‘groen droogte’
Die vlak van die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam, het Maandag op 37% gestaan, met verlede week se sneeu op die berge wat nie genoeg was om ’n beduidende verskil te maak nie.

Macpherson sê daar word na die huidige droogte in die Klein Karoo as ’n “groen droogte” verwys – die veld is groen met ligte reën wat val en nie riviere en damme volmaak nie, terwyl die watertafel ook so daal dat boorgate in byvoorbeeld die Vermaaksrivier nie meer genoegsaam water lewer nie.

“Ons is in die knyp en ons moet voorsorg tref. Ons glo en bid wel dat dit binnekort sal reën, maar intussen moet ons almal ons gordels stywer trek wat waterverbruik betref.” (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "‘Ons is in die knyp en moet voorsorg tref’"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*