Oudtshoorn se drinkwater is na die afgelope week se welkome reën troebel, maar nie onveilig nie. Soos in die verlede het die munisipaliteit hierdie week inwoners weer verseker dat die troebelheid in die water nie skadelik is nie.
Dit kom telkens voor as dit reën en veral nadat daar veldbrande in die opvanggebied van die Raubenheimerdam was.
Oudtshoorn het nog nooit oor ʼn filtrasiesisteem beskik nie, wat beteken dat drinkwater net so vars as wat dit uit die berg kom na die reservoirs afgevoer word.
Die water word wel by ʼn chlorineringstasie by die Kango Bergoord behandel om te verseker dat daar geen bakterieë in die water is nie.
Dit kan egter gebeur dat stygende troebelheid die effektiwiteit van chlorinering kan beїnvloed. Derhalwe word die water daagliks getoets. Dieselfde geld vir De Rust.
In ’n mediaverklaring sê Aurelia Mle, munisipale kommunikasiebeampte, “Dit is belangrik om daarop te let dat onlangse watergehaltetoetse geen teenwoordigheid van bakterieë in die water getoon het nie.
As voorsorgmaatreël raai die Oudtshoorn-munisiplaiteit egter inwoners in Oudtshoorn en De Rust aan om alle drinkwater tot verdere kennisgewing te kook.”
Sy gee die versekering dat die munisiplaiteit sal voortgaan om water-kwaliteit en bergingsvlakke te monitor en nuwe inligting sal verskaf soos wat dit nodig geag word. Die goeie nuus aan inwoners is dat die onlangse reën die damvlak weer tot bokant 80% laat styg het, wat beteken dat die Vlak 1-waterbeperking wat ingestel is, moontlik opgehef kan word.
Inwoners van De Rust en Dysselsdorp word dringend daarop gewys dat Vlak 4-waterbeperkings in dié twee dorpe steeds van toeapassing is.
Die twee dorpe se water kom nie vanuit die Raunbenheimerdam nie, maar uit die Huisrivier en vanaf boorgate, waar lewering soms beperk is. (HANNES VISSER)
Water troebel, maar veilig
Die chlorineringstasie onder die Raubenheimerdam waar Oudtshoorn se water behandel word. Foto verskaf