Met die nuwe ontwikkelings in Oudtshoorn het bestuurders skielik ook ’n nuwe uitdaging – twee verkeersirkels. Die een is by die Jou Eie-winkelsentrum by die koöperasie en die ander groter een is by die nuwe winkelsentrum in Rademeyerstraat. Vir diegene wat elke dag in die dorp bestuur, is dit duidelik dat sommige bestuurders nie vertroud is met die gebruik van sirkels nie.
Die hoofdoel van ’n verkeersirkel is om verkeer by kruisings te kalmeer en te laat vloei sonder dat die verkeer soos by ’n stopstraat heeltemal tot stillstand kom.
Die beginsel van ʼn verkeersirkel is heel eenvoudig. Daar word bloot toegegee aan verkeer wat van regs kom. M.a.w die motoris hanteer die verkeersirkel soos wat enige toegeeteken hanteer word. Verkeer wat van regs kom geniet ryvoorrang.
Wanneer ’n sirkel genader word, is dit belangrik dat bestuurders vroegtydig aandui in watter rigting hulle gaan draai as hulle die sirkel verlaat.
Die linker flikkerlig dui aan dat die bestuurder die sirkel na links gaan verlaat en die regter flikkerlig dui aan dat die voertuig om die sirkel gaan ry en dit aan die regterkant verlaat. Geen flikkerlig word gebruik as die voertuig na die sirkel reguit aanry nie.
Die twee sirkels in Oudtshoorn het nie soos die geval in George, dubbelbane wat om hulle gaan nie, wat die gebruik makliker maak. Oudtshoorn beskik nog nie oor mini-sirkels soos George nie. Mini-sirkels dien as vierrigting stopstrate.
Die gebruik van verkeersirkels word in die nasionale verkeersregulasies vasgestel en verskil nie van provinsie tot provinsie of van dorp tot dorp nie. Die raad vanaf verkeersowerhede is om enige sirkel versigtig en stadig te nader en ander voertuie in ag te neem. (HANNES VISSER)
Hoe werk ʼn verkeersirkel?
