Vrou skuldig aan bedrog word later gevonnis

Die saak teen ’n 40-jarige vrou van Oudtshoorn wat skuldig bevind is op 50 klagtes van bedrog, is Vrydag in die Oudtshoorn distrikshof vir vonnisoplegging tot 29 Mei uitgestel. Rhodene Anthony het in 2016 as werknemer van Fruit & Veg City Oudtshoorn, vals fakture uitgereik en op bedrieglike wyse haar werkgewer uit derduisende rande bedrieg.

Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, versoek die hof vir ʼn vonnis waarvan Anthony ’n gedeelte in die tronk moet uitdien omdat sy aan ernstige misdrywe skuldig bevind is.

Anthony se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het gesê dat die saak reeds baie lank duur en dat kinders nie gestraf moet word vir die dade van hul ouers nie.

Hy het die hof versoek om die klagtes vir vonnis saam te neem en beklemtoon dat die gemeenskap se belange ter sprake kom. Hy het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra, maar indien nie, ’n vonnis waarvan sy na die uitdiening van ’n sesde om parool aansoek kan doen.

In ’n bykomende volledige proefbeampteverslag, wat vroeër deur die hof aangevra is, is die aanbeveling van Claricka Stuurman, dat die beskuldigde ’n opgeskorte vonnis opgelê word omdat haar kinders vir wie sy die primêre versorger is, erg benadeel sal word indien sy tronk toe moet gaan.

Landdros Ryan van Harte het na die argumente van die staat en die verdediging die saak vir oorweging van vonnis tot 29 Mei verdaag. (GARNETT WICOMB)